Topklas kore tree in stad op
Liefhebbers van koorsang wat Saterdagaand ‘n uitvoering van die NWU PUK-koor en die plaaslike Ensemble Esprit Kamerkoor in die stad bygewoon het, is met ‘n keur van verwerkings deur dié twee topkore betower. Die NWU PUK-koor, wat pas van ‘n Europese konserttoer teruggekeer het, het die gehoor aan hul voete gehad met ouer treffers soos …
Liefhebbers van koorsang wat Saterdagaand ‘n uitvoering van die NWU PUK-koor en die plaaslike Ensemble Esprit Kamerkoor in die stad bygewoon het, is met ‘n keur van verwerkings deur dié twee topkore betower.
Die NWU PUK-koor, wat pas van ‘n Europese konserttoer teruggekeer het, het die gehoor aan hul voete gehad met ouer treffers soos Es geht ein wehen van Johannes Brahms en Omnia sol temperat van Andrej Makor. Die studente het daarna hul formele konsertklere verruil vir kleurvolle Afrika-uitrustings en nuwer verwerkings soos Expressions of Praise van Kagiso Nkuna en Fear no more the heat of the sun van Franco Prinsloo wat luide applous uitgelok het.
‘n Hoogtepunt van die aand was ‘n gesamentlike optrede deur die twee kore waartydens stukke soos In einem kühlen grunde, Irish blessing en Rasti rozmarin groot byval gevind het.
Die aand is op gepaste wyse afgesluit toe koorlede tussen die gehoor inbeweeg het en met die seënbede, Laat Heer U seën op hul daal, gegroet het.
Die besondere geleentheid het by die Hervormde Kerk, Welgelegen plaasgevind.
Storie, foto’s en video: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com



