Tuksreeksspanne voorgestel, Kardoesie agter tralies
Opgewondenheid het onlangs op die pawiljoen geheers toe Hoërskool Pietersburg (PHS) se eerste hokkie-, netbal- en rugbyspanne vir die Tuksreeks aan die res van die skool bekendgestel is. Boonop het oud-Pietie en spesiale gasspreker, Daan Jansen, ‘n motiveringstoespraak gelewer ter motivering van die leerders. “Drome kan waar word en enigiets is binne elkeen se bereik …

Opgewondenheid het onlangs op die pawiljoen geheers toe Hoërskool Pietersburg (PHS) se eerste hokkie-, netbal- en rugbyspanne vir die Tuksreeks aan die res van die skool bekendgestel is.
Boonop het oud-Pietie en spesiale gasspreker, Daan Jansen, ‘n motiveringstoespraak gelewer ter motivering van die leerders.
“Drome kan waar word en enigiets is binne elkeen se bereik as jy hard genoeg daarvoor werk,” het Jansen, wat groot naam in Amerika as produksie-assistent in internasionale realiteitsreekse maak, aan leerders gesê.
Groot ontsteltenis het egter ook op die pawiljoen geheers toe Kardoesie deur Kansa-personeel en polisielede van die stad tydens die opening op twee aanklagte gearresteer is. Kardoesie, ‘n pop in PHS-uniform, word tradisioneel tydens ‘n jaarlikse kompetisie aan die graad wat onder meer met hul tema, lyndans en kreet uitstaan, toegeken.
“Kardoesie het haar verpligtinge as PHS-verteenwoordiger met die oorhandiging van ‘n donasie deur die ATKV-jeugtak op 8 Februarie versuim en Kansa-personeel met haar afwesigheid teleurgestel.”
Kardoesie sal wel later op borgtog vrygelaat word indien die leerders en onderwysers genoeg geld insamel om die oortredinge te regverdig, volgens Christopher Combrink, Kansa Limpopo-gemeenskapsmobiliseerder.
Eerstespanleerders het ook ‘n trokrit na twee laerskole as deel van hul ‘Groot Brag’ onderneem.
Storie en foto’s: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za





