Venus skitter helderste tydens Aand van die Sterretjies
Ouers en leerders is op passievolle danspassies en skreeusnaakse storielyne tydens Hoërskool Pietersburg (PHS) se Aand van die Sterretjies getrakteer. Die konsert is verlede Woensdag en Donderdag opgevoer met die gala-aand Donderdagaand. Die aanvraag na kaartjies vir dié aand was só hoog dat die skool blitsvinnig plan moes maak om meer sitplekke beskikbaar te stel. …
Ouers en leerders is op passievolle danspassies en skreeusnaakse storielyne tydens Hoërskool Pietersburg (PHS) se Aand van die Sterretjies getrakteer.
Die konsert is verlede Woensdag en Donderdag opgevoer met die gala-aand Donderdagaand. Die aanvraag na kaartjies vir dié aand was só hoog dat die skool blitsvinnig plan moes maak om meer sitplekke beskikbaar te stel.
Die graad 8-leerders het in sterregroepe, Venus, Aarde, Jupiter en Saturnus op die verhoog meegeding. Venus het almal uitgestof en is as wengroep aangewys.
Elke groep moes ‘n opvoering lewer wat tradisies of eienskappe van PHS uitbeeld en die storielyn moes terselfdertyd deur sprokies- of strokiesprentkarakters ondersteun word. Elke opvoering moes ook dansitems en ‘n kreet bevat.
Venus se voorstelling van Scottie, die skool en hoofseun se ampsmotor, met die strokiesprent, Cars, as inspirasie het aan hul die wenplek besorg.
Aarde het van Kardoesie, Jupiter van Staaloog – ‘n anonieme ‘iets’ wat die skool se geheime uitlek, en Saturnus van Pietie, PHS se gelukbringer – as karakters in hul opvoering gebruik gemaak.
Volgens die skool se waarnemende skakelbeampte, Elmari Craig was daar slegs nege punte verskil tussen die eerste en vierde plek. “Dit was ‘n goeie gelykopstryd, maar Venus het daardie ekstra oemf gehad om as wenspan te seëvier.”
Storie, foto’s en videos: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com









