Wynveiling laat geld fluks inrol
Die wynveiling van die Afrikaanse Protestante Kerk (APK) Pietersburg wat verlede Woensdagaand buite die stad gehou is, beteken ‘n stewige meevaller van R40 000 vir Martha Hofmeyr Tehuis vir Bejaardes. Bekroonde wynmaker van die Annandale Wynlandgoed in die Stellenboschdistrik en voormalige Springbokstut, Hempies du Toit, was die afslaer wat ook wyn uit sy eie versameling …
Die wynveiling van die Afrikaanse Protestante Kerk (APK) Pietersburg wat verlede Woensdagaand buite die stad gehou is, beteken ‘n stewige meevaller van R40 000 vir Martha Hofmeyr Tehuis vir Bejaardes.
Bekroonde wynmaker van die Annandale Wynlandgoed in die Stellenboschdistrik en voormalige Springbokstut, Hempies du Toit, was die afslaer wat ook wyn uit sy eie versameling geskenk het.
Du Toit se neef, Francois Fourie wat ‘n plaaslike boer is, het saam met sy reëlingskomitee verdere wynskenkings gewerf wat verseker het dat ‘n verskeidenheid wyn te koop was. Fourie het gesê voorlopige berekeninge dui op ‘n wins van ongeveer R160 000 wat beteken dat die skenking aan Martha Hofmeyr Tehuis ongeveer R40 000 is. “Die APK het onderneem om 25% van die wins aan die tehuis te skenk en die reuse sukses is danksy skenkings waarvoor ons baie dankbaar is,” sê Fourie en voeg by dat die perseel ook gratis beskikbaargestel is.
‘n Lot wat uit ‘n bottel Solms wijn de Caab en ‘n Orange River Cellars Natural Sweet 2016 bestaan het, is teen ‘n winskoopprys van R100 opgeveil. Ses bottels Rupert & Rotschild Baron Edmond en ‘n versameling van drie bottels Roodeberg het hul kopers elkeen R10 000 uit die sak gejaag. Die bod vir ‘n vyfliter Roodeberg Magnum is op R5 000 toegeslaan, terwyl ‘n versameling van ‘n bottel Merlot Zonnenbloem 2006, ‘n Merlot Steenberg 2011 en ‘n Merlot Plaisir de Merle 2004 ‘n koper R7 100 gekos het.
Dawie Lee, bestuurder van Martha Hofmeyr Tehuis vir Bejaardes, is in sy skik met die meevaller en het sy opregte dank teenoor die skenkers uitgespreek.
Storie, foto’s & video: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com



