SECUNDA – Mnr. Johan Retief (68) is op 13 November aan breinkanker dood.
Hy is in Maart met dié kanker gediagnoseer en het op 25 Maart ’n operasie ondergaan, maar kon daarna nie meer self loop nie.
Sy vrou, me. Etha Retief, het gesê mnr. Retief het nog self die motor tot by die hospitaal bestuur op die dag van die operasie.
“Hy was verlam aan die linkerkant van sy lyf vandat hy geopereer is.
“Ek het na hom omgesien en hy was by my toe hy dood is,” het me. Retief gesê.
’n Roudiens is op 17 November vanuit die N.G. Kerk Trichardt-gemeente gehou.
Sy skoonseun, mnr. Danie du Toit, het die diens waargeneem.
Mnr. Retief was vir 30 jaar ’n Afrikaanse onderwyser by Hoërskool Secunda voordat hy in 2010 afgetree het.
Hy en me. Retief was vir 43 jaar getroud.
Hy laat haar, ses kinders en skoonkinders en drie kleinkinders na.
Me. Retief sal hom onthou as ’n mens wat lief was vir die Afrikaanse taal en die natuur.
Hul dogter en skoonseun, me. Annelize en mnr. Martin du Toit, het vroeër vanjaar vanaf Pretoria na Secunda verhuis om me. Retief te help met mnr. Retief se versorging.
Dié egpaar gaan hulle nou op Secunda vestig.



