Voorslagvrou van SAVF sterf
Tant Corrie het die gebod van naasteliefde op alle terreine van die samelewing uitgeleef

’n Voorslagvrou, ’n staatmaker van die Suid-Afrikaanse Vroue-federasie, me. Corrie Louw, is Donderdag, 14 November, 27 dae voor haar 83ste verjaardag in die SAVF-Huis oorlede.
Cornelia Johanna de Wet is op 11 Desember 1930 op Bethal gebore en het aan die Hoërskool Hoogenhout aldaar gematrikuleer.
Nadat sy haar onderwysdiploma aan die destydse Onderwyskollege op Heidelberg verwerf het, het sy aan die laerskole Morgenzon, Hendrina en etlike jare aan JJ van der Merwe op Ermelo skoolgehou.
In 1953 is sy met ’n boer van die distrik, Boet Louw, getroud en twee seuns, Danie en Pieter,
is uit die huwelik gebore.
Ná haar man se afsterwe in September 1975 het sy voortgegaan met skoolhou, maar ook nog tyd gevind om haar seun Pieter in die boerdery by te staan.
Tant Corrie het die gebod van naaste-liefde op alle terreine van die samelewing uitgeleef.
As lid van Armsorg en Kindersorg was sy nou betrokke by opheffingswerk onder minderbevoorregtes.
Maar dit was eintlik die SAVF wat haar die naaste aan die hart gelê het en wat sy met groot toewyding gedien het.
By weeklikse veeveilings en ander geldinsamelings was sy altyd getrou op haar pos totdat haar kragte dit nie meer toegelaat het nie.
Sy het later die amp Administratiewe Finansiële Bestuurder van die SAVF, ’n pos wat deur haar toedoen geskep is, ’n tydlank beklee.
Sy het daarna ook in die diensbestuur van die SAVF-Huis gedien voordat sy vier jaar gelede ’n inwoner van die tehuis geword het.
Die afgelope twee jaar is sy in die tehuis se afdeling vir verswakte bejaardes versorg.
Ds. Jaco van Niekerk van die NG Moedergemeente waarvan tant Corrie ’n toegewyde lidmaat was, het haar Maandag tydens die roudiens in die SAVF-Huis as ’n “gelowige mens wat die Here gedien het”, geloof. Vir haar lang en getroue diens het die SAVF haar met verskeie toekennings beloon.
Sy word deur haar seuns, vier klein- en twee agterkleinkinders oorleef. (CK)
.