
SECUNDA – Past. Jacques Fourie van die Lede in Christus Kerk Secunda-gemeente, se lewe het onherroeplik op 25 November 1998 verander.
Hy moes sy twee seuns by die skool wat 42km ver was gaan haal.
Past. Fourie deel sy getuienis: “Ek het ’n vrees in my gehad daardie oggend nog voordat ek gery het om die seuns te gaan haal en op pad skool toe het ek vir die eerste keer in 12 jaar gebid.
“Ek het in daardie tyd nog nie die Here gedien nie, maar omdat ek so ’n vrees gehad het, het ek die heelpad vir hulle gebid en die Sondagskoolliedjies wat ek nog kon onthou, gesing.
“Voor die skool het ek gebreek en begin huil omdat die vrees in my so oorweldigend was.”
’n Boer het hom later die middag geskakel en gesê dat hy teleurgesteld is dat past. Fourie sy motor daagliks vir sy seuns gee om mee te ry omdat hulle net nege en 11 jaar oud was.
“Ek het toe besef dat die twee seuns daagliks my motor sonder my of my vrou se medewete geneem het en op die groot pad gaan ry het.
“Hulle kon albei van jongs af bestuur omdat hulle op ’n plaas grootgeword het,” het hy vertel.
Die boer het past. Fourie meegedeel dat hy die twee seuns op die N2-snelweg wat in daardie jare as die pad van die dood bekend gestaan het omdat daar so baie ongelukke waarin mense dood is, gebeur het sien ry het.
“Hy het my vertel hoe die seuns beheer oor die motor verloor het en die motor getol het en hoe ’n aankomende vragmotor die motor sou tref.
“Hy het ’n hand uit die lug sien kom wat die motor opgetel en weer veilig op die pad neergesit het.
“Die motor moes eintlik gerol het, maar die Here het hul lewens gered.
“Ek het toe besef dat dit die rede was waarom ek vir my seuns moes bid en dat die Here daar ingegryp het.
“Ek is toe die Sondag daarna kerk toe en die pastoor het oor die verlore seun gepreek.
“Ek het besef dat daar ’n roeping op my lewe was en tot bekering gekom,” het past. Fourie vertel.
Hy het daardie tyd in die polisie in Port Elizabeth gewerk.
Na dié gebeurtenis het hy nog vir vier maande in die polisie gewerk toe het hy en sy vrou, me. Anné Fourie, wat twee jaar voor hom tot bekering gekom het, teologie gaan studeer.
“Van polisieman tot pastoor was ’n wye draai,” het past. Fourie gesê.
In die twee jaar wat sy vrou voor hom tot bekering gekom het, was dit ’n moeilike tyd vir haar.
“Ek en die kinders het kerk toe gegaan as hy gewerk het, dan het hy met skreeuende sirenes daar aangekom en ons kom uithaal,” het me. Fourie vertel.
Hy het later sy mond met nagmaalwyn uitgewas en besluit om rook, drank en vloek op te gee.
“Ek het alles opgegee vir die Here, want ek het besef Hy het my alles gegee toe Hy my seuns gespaar het,” het hy gesê.
Me. Fourie het ook voordat sy studeer het by die polisie in hul menslike hulpbronneafdeling gewerk.
Die egpaar het vir sewe jaar by die Lede in Christus Kerk in Port Elizabeth bedien voordat hulle in 2010 na Secunda getrek het.
“Ek wou nie Secunda toe trek nie en het vir my man gesê ek wil nie naby Zimbabwe bly nie.
“Ek het gedink Secunda is naby Zimbabwe.
“Die Here het toe vir my Skrif gegee wat bevestig het dat ons na Secunda moes kom,” het me. Fourie gesê.
Die egpaar woon nou al drie jaar op Secunda en geniet dit, hoewel past. Fourie die see en vhengel mis.
Herderskap is vir dié egpaar die belangrikste deel van hul bediening.
“Ons het werklik ’n Heilige Gees geïnspireede bediening in ons kerk.
“Die gawes van die Heilige Gees word aktief in ons kerk beoefen.
“Vir ons gaan dit werklik oor wat God in die dienste wil bereik en nie oor wat die mense dink behoort plaas te vind nie,” het me. Fourie gesê.
Hulle het mense na hul gemeente in Herbert Bakerstraat genooi.
Hul dienste is op Sondae om 10vm en 6nm.