
BETHAL – Die eienaar van ’n plaaslike onderneming het die gemeenskap gewaarsku dat hulle bedag moet wees vir mense wat met R100-note betaal.
Sy het onlangs ’n inbetaling by ’n bank gedoen en is ingelig dat van die note vervals was.
“Die bank maak die note onbruikbaar en jy verloor daardie geld.”
Konst. Mapule Tlou, kommunikasiebeampte van die Bethal Polisie, is gevra vir ’n voorbeeld van die vervalsde note en waarna mense moet kyk wanneer hulle geld ontvang.
Sy kon egter nie teen druktyd kommentaar lewer nie.
Hier is egter drie dinge waarna opgelet moet word:
Kyk:
Identifiseer die sekuriteit, tegniese-en ontwerpkenmerke op die voorkant en die agterkant van die banknote.
Dié eienskappe is die watermerk, silwer sekuriteitslyntjie, unieke nommers, wapen, perfekte drukregistrasie, mikrodruk en die grootte van die nuwe banknote.
Voel:
Verhoogde druk gee die noot ’n unieke en growwe gevoel.
Die verhoogde funksies op die nuwe banknote sluit die denominasie getal op die voorkant van die nuwe banknote (beeld van die voormalige president Nelson Mandela ), woorde “Suid-Afrikaanse Reserwebank,” en wapen op die agterkant van banknote asook lyne aan die onderkant links en regs aan die voorkant van die noot (funksie vir blindes).
Kantel:
Verborge/latente beeld – as jy ’n nuwe banknoot byna horisontaal voor jou oë hou, verskyn die denominasie getalle in die band onder die beeld van Nelson Mandela.



