SECUNDA – Vroue het Vrydag, 7 Maart by die N.G. Kerk Goedehoop-gemeente bymekaar gekom om die Wêreld Biddag vir Vroue te vier en die skrywer van die boek Hillbrow is nie vir Sissies nie, en skrywer van verskeie artikels in die tydskrif Lig, Elise Bosch, het vroue toegespreek.
Bosch werk gereeld in Hillbrow onder die straatvroue, dwelmverslaafdes en gebrokenes, dit is haar bediening.
Sy het vir vroue by die Wêreld Biddag video-greepe gewys en vroue kon daardeur net ’n stukkie van die mense van Hillbrouw se lewens sien.
“Ek is ’n storieverteller en ’n mens sien die gebrokenheid in die strate van Hillbrow,” het Bosch vertel.
Sy het die vroue van Hillbrow wie se verhale sy gedeel het as vroue van geloof en afhanklikheid van God beskryf.
“Dié mense is totaal afhanklik van God en ’n mens kan ongelooflik baie by hulle leer.”
Sy het vertel van een van die vroue wat ’n skisofreen is en by die sopkombuis kom kos haal het, maar niemand naby haar wou toelaat nie.
“Sy het my geruik soos ’n dier as ek net naby haar wou kom en dan weggehardloop.
“Sy het egter een van die ander vroue, wat ook kom kos haal het, naby haar toegelaat, en dié vrou het vir my ’n kam kom vra en die mal vrou se hare gekam.
“Die mal vrou het haar gelos en dit het gelyk of sy dit geniet het.
“Sonder woorde het die ander vrou haar aangeraak en dit was ’n Jesus-oomblik.
“Die ander vrou was daardie dag Jesus se hande vir die mal vrou.
“Ek dink ons moet ons bril van veroordeling afhaal en opou oordeel as ons nie in daardie ou se skoene ’n pad gestap het nie.
“Hoe langer ons in die lewe is, hoe minder verstaan ons al die lyding op aarde, maar ek het geleer dat Jesus nie ver van ons af is nie, maar in die lyding by Sy mense.”
Bosch beleef ook baie ligte oomblikke in haar bediening en het ’n Bybelstudiegroep vir vroue in Hillbrow, waaronder daar ’n paar voormalige prostitute ook is, begin.
Sy het vertel hoe een van hulle een keer terwyl hulle gebied het die koek wat hulle na afloop van die Bybelstudie sou eet, gesteel het.
Die vrou wat die koek gesteel het se geestesversteurde seun, het toe Bosch oppad na die vrou toe was, haar ingewag en vir die koek bedank.
“Ek het net niks oor die koek vir die vrou gesê nie, want ek het besef en verstaan.”
Sy reken sy kry baie meer by die Hillbrow-mense as wat hulle by haar kry.
“Dié mense het ’n slegte lewe, maar hulle maak dit kleurvol.
“Hoe ouer ek word, hoe minder probeer ek om God te verstaan, want as jy Hom verstaan is Hy in elk geval nie God nie.”
Sy het die verhaal van tannie Cupie vertel wat daagliks in afhanklikheid van God leef.
“Sy het een Sondag nie kos gehad om vir haar kleinkind te gee nie en Vader toe gevra vir kos en sommer vir Hom die oplossing ook gegee.
“Sy het vir Hom gesê sy sal as haar buurvrou oorkant die pad terugkom van die Katolieke Kerk af, vir haar gaan vra vir ’n teesakkie en ’n snytjie brood.
“Hoe dikwels skep ons nie ’n prentjie vir God van hoe Hy ons probleem moet oplos nie.
“Of ons skryf vir Hom voor.
“Tannie Cupie het vir ’n teesakkie en ’n sny brood gevra, maar God het beter in gedagte gehad vir haar.
“Terwyl sy op die stoep gesit en wag het vir haar buurvrou, het ’n vrou met ’n duur motor voor haar huis gestop en bakke vol kos uit die bagasieruim begin laai.
“Tannie Cupie het toe meer gekry as waarvoor sy gevra het en kon nog kos vir haar buurvrou ook gee.
“Sy het my geleer om nooit vir God voor te skryf nie, want Hy gee poeding ook,” het Bosch afgesluit.




