
Hintostax, ‘n onderneming op Standerton, wat mediese ondersoeke vir kontrakteurs uitvoer, het Dinsdag, 13 Mei ‘n saak teen ‘n man vir beweerde bedrog geopen.
Hy het hulle geskakel om ‘n afspraak vir 15 arbeiders te maak wat glo op 5 Mei by ‘n kragstasie moes begin werk.
Hy het bevestig dat twee van sy voormanne die werkers sal bring en dat hulle hul mediese induksie deur sy onderneming moes doen.
“Dit was vir ons glad nie vreemd nie, omdat baie kontrakteurs skielik opdaag vir mediese ondersoeke, dit is gewoonlik hulle hoofkantore wat dan die bespreking telefonies reël,” het me. Ester Ernst van die onderneming, gesê.
Die 15 mense het net meer en meer geword en was toe naderhand 32.
Die man is toe weer gebel en het gesê dat hulle moes voortgaan omdat hy die werkers nodig het.
Hy het toe vir “Jaco” gestuur om die nodige uitstaande inligting te bring en om ‘n betaling te doen, maar Jaco het nie opgedaag nie.
Terselfdertyd het die vermeende bedrieër nog besprekings vir groepe van 15 mense op Vrydag, 9 Mei en Dinsdag, 13 Mei gemaak.
Vrydag het die tweede groep mense, weer eens ‘n groep van 15, gegroei na 29.
“Hy het geskakel om te hoor of die mense opgedaag het vir hulle mediese ondersoeke en weer eens sou ‘Jaco’ kom betaal en die groep se mediese dokumente afhaal.
“Terwyl die mense toe sit en wag, begin hule praat en vertel hoe hulle R500 in sy rekening vir die medies en induksie moes inbetaal.
“Ongelukkig het ons te laat hiervan gehoor en hy het net nie meer sy foon geantwoord nie.”
Die arbeiders het die onderneming laat weet dat hulle polisie toe gaan om ‘n saak teen hom te open.
Dinsdag moes alle personeel en arbeiders omstreeks 8vm by die polisiestasie wees sodat hy hulle geld kon terugbetaal.
“Soos te wagte was daar geen teken van hom.”
Die werkers is toe hof toe waar die persoon, wat vir hom al die werwings gedoen het, was.
“Hy het homself in die begin as sy sub-kontrakteur voorgestel en toe die drama begin, is hy toe ook ‘n slagoffer wat net die werwings gedoen het.”
Volgens hom het hy al ‘n geruime tyd snuf in die neus gekry en van die mense gewaarsku om eers seker te maak voordat hulle enige geld oorbetaal.
Hy het ook na na die vermeende bedrieër se huis gegaan om uit te vind wat aangaan, maar hy was nie tuis nie.
Dié vermeende skelm het vermoedelik na Upington verhuis nadat hy hulle laat weet dat dit nader aan hulle hoofkantoor is. Dié inligting het almal eers Dinsdag te hore gekom, nadat die groep mense aangedring het om die sub-kontrakteur te sien. “Hoekom hy ons nie eerder gesê het van sy verhuising en verskonings nie, weet niemand nie.”
Daar bestaan wel ‘n maatskappy in Potchefstroom.
Die bank het bevestig dat die rekening aan die vermeende swendelaar behoort en dat hulle kon sien wanneer geld inbetaal is, dit dadelik onttrek is.
Die rekening is dadelik gevries.
Daar is verskeie sake teen hom oopgemaak en die polisie ondersoek die saak.
Hy was ‘n werknemer by Sahara Sand en het self ‘n mediese ondersoek by Hintostax in Januarie gedoen.


