Local newsNewsSchool sportSchoolsSport

Oosterland-afrigter is trots op eerstespan

Wedstryd is ’n hoogtepunt vir Hoërskool Oosterland.

SECUNDA – Hoërskool Oosterland se eerste rugbyspan het vierde in Poel B van die Mpumalanga-rugbyliga geëindig en moes Saterdag, 14 Junie met die Poel A-ligawenners kragte meet.

Hulle het teen Hoërskool Ligbron van Ermelo te staan gekom en hoewel Ermelo die wedstryd met ’n telling van 25-0 gewen het, het me. Jackey van Zyl, skakelbeampte van Hoërskool Oosterland, gesê dat dié dag ’n hoogtepunt vir Oosterland se eerstespan was en dat hulle dit nog lank sal onthou.

“Dit was ’n baie strawwe liga en ons is baie trots op ons span,” het mnr. Barend Groenewald, hoofafrigter van die eerstespan, gesê.

“Om vierde in die Poel te eindig nadat ons teen Hoërskool Rob Ferreira, Hoërskool Lydenburg, Hoërskool Generaal Hertzog, Hoërskool Secunda en Hoërskool Piet Retief meegeding het, was reeds ’n groot prestasie.

“Dit was die eerste keer in agt jaar wat ons in die kwarteindronde meegeding het.

“Die karakter van ons spelers en die dissipline wat die seuns aan die dag gelê het nadat hulle in verskeie wedstryde regtig uitgedaag was, getuig daarvan dat ons ’n baie stewige fondasie gebou het en beslis in die toekoms van krag tot krag sal gaan.”

Hoërskool Ligbron, Hoërskool Ermelo, Hoërskool Standerton en Hoërskool Volksrust gaan nou in die halfeindstryd meeding nadat geen skole van Poel B na die halfeindstryd deurgedring het nie.

Drie van Oosterland se spelers, Michael Jones, Petrus Ramalotse en Jonathan Swart, is vir die Mpumalanga-groep se Cravenweek gekies.

“Dit getuig van die span se groei en die ontwikkeling wat daar in Hoërskool Oosterland se rugby is.

“Die span het soveel gees en karakter waarop ons volgende seisoen kan voortbou.

“Ons sien baie daarna uit om dit wat die span begin het, te laat groei en hulle trots te maak op die ‘legacy’ wat hulle agterlaat het,” het mnr. Groenewald gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button