Groep gedenk Bewaringsdag op Val
Die besoekers het geleer waar om voorsate na te spoor en hoe museumstukke hanteer moet word, gevolg deur 'n besoek aan erfenisterreine in die omgewing.
Besoekers van oraloor het op 10 Oktober Bewaringsdag op Val herdenk.
Bestuurslede van die Middelburg Erfenisvereniging was deel van hierdie groepie wat in die Val hotel en Val museum na praatjies oor erfenis en stambome geluister het en toe op ‘n toer na erfenis-terreine in die omgewing gegaan het.
Die eerste spreker van die oggend was Johan Fourie van die Erfenis Stigting wat ‘n praatjie oor die belangrikheid van stambome aangebied het.
Fourie, ‘n kundige op die gebied van genealogie, het verduidelik hoe en waar om inligting oor jou voorsate te bekom.
Hy het vertel hoe belangrik dit is om onderhoude te voer met oorlewende oupas en oumas en ook met ander familielede. Die internet en webblaaie soos die van die Geneologiese Vereniging van Suid-Afrika (Geneological Society of South Africa) (eGGSA) kan ook gebruik word om jou stamboom na te vors.
Volgens die eienaar van Val Hotel, Rita Britz, was Fourie se praatjie interessant en het dit almal se nuuskierigheid geprikkel.
Annemarie Carelsé, ‘n museumkundige, was volgende aan die woord.
Sy het verduidelik hoe museumstukke hanteer, bewaar en skoongemaak en skoongehou moet word.
Na potjiekos vir middagete in die Moegeploeg restaurant, het die groep saam met Britz en die bekende historikus David Scholtz op ‘n toer na erfenisterreine in die omgewing van die Val hotel vertrek.
Die eerste stilhouplek was die plaas van Vecht Generaal Gert Claasen waar Scholtz voor die twee monumente by die ingang na die plaas ‘n praatjie gegee het oor die Vecht Generaal Claassen en kaptein (dr) Arthur Martin-Leake. Beide se monumente staan by die ingangshek van die plaas waar Vecht Generaal Claassen gewoon het.
Ten spyte van reëndruppels wat begin val het, het die besoekers bly staan om na Scholtz te luister.
Voortrekker begraafplaas nie vêr buite Val nie, was die volgende stop.
Hier het Britz vertel van haar Voortrekker-voorsate wat daar begrawe is.
Scholtz het die groep gelei na ‘n hoek van die Voortrekker-kerkhof waar die eensame graf van vermoedelik ‘n Kanadese soldaat is wie tydens die Anglo-Boereoorlog in die omgewing van Val gesterf het.
Volgens Scholtz dui navorsing daarop dat die graf waarskynlik die is van Skutter Angus Jenkins van die Strathcona’s Horse regiment wat op 1 Junie 1900 daar naby gesneuwel het.
“Die gaste se ervaring van hierdie bewaringsdag was oorwegend positief en die hoop is uitgespreek dat dit in die toekoms herhaal sal word,” het Britz bygevoeg.



