Willie praat oor eiendomsregte
TRICHARDT – Verskeie boere en sakelui het AfriForum en AfriSake se sake-ontbyt Donderdag, 3 Julie by Brunfelsia Estate bygewoon. Mnr. Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het oor eiendomsregte gepraat. Ds. Anton Knoetze van die N.G. Kerk Secunda-Goedehoop-gemeente het met skriflesing en gebed geopen en het uit 1 Konings 21 voorgelees. Me. Arina Stoker van AfriSake …
TRICHARDT – Verskeie boere en sakelui het AfriForum en AfriSake se sake-ontbyt Donderdag, 3 Julie by Brunfelsia Estate bygewoon.
Mnr. Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het oor eiendomsregte gepraat.
Ds. Anton Knoetze van die N.G. Kerk Secunda-Goedehoop-gemeente het met skriflesing en gebed geopen en het uit 1 Konings 21 voorgelees.
Me. Arina Stoker van AfriSake het gesê: “Eiendomsreg gaan nie net oor grond nie, dit is elke vorm van eiendom.”
Volgens mnr. Ruan Lottering van AfriForum, is dié organisasie se doel om drie aspekte van ’n dorp te beskerm.
Dit behels die dienslewering van die munisipaliteite, die omgewing en veiligheid van die inwoners.
“Ons veg teen munisipaliteite om seker te maak dat inwoners goeie diens kry,” het hy gesê.
Hy het mense aangemoedig om by hul gemeenskappe betrokke te raak en by AfriForum aan te sluit.
Mnr. Spies glo dat die regering van ’n land toesig moet hou en die volk lei om die 10 gebooie wat God vir die mens gegee het, te onderhou.
“As die regering hom met ander dinge besig hou, kom só ’n regering tot ’n val,” het mnr. Spies gesê.
“Dit is al jare eie aan ’n regering wat nie besef wat hul roeping en opdrag is nie.
“Die storie oor Nabot en sy wingerd in 1 Konings 21 kom al vir jare.
“Daar is minagting vir dit wat mense oor baie jare verwerk en gebou het en wanneer eiendomsreg deur regerings geminag word, minag hulle eintlik mense se lewens.
“In 1 Konings 21 het hulle naderhand Nabot se lewe geneem omdat hy nie sy wingerd wou opgee nie.
“Regerings moet eiendomsreg en mense se lewens beskerm en inwoners veilig hou.”
Volgens hom moet eiendomsreg die demografie van die land weerspieël.
Volgens die grondwet moet ’n mens vergoed word as jy van jou land onteien word.
“Daar is egter nou ’n nuwe bedeling en eiendomsregte in Suid-Afrika, dit is ’n groenskrif vir grondhervorming.
“Die staat is die opperhoof vir alle hulpbronne en dit sluit grond in, asook water en minerale.
“Die realiteit is as die regering jou plaas koop, kry die boer nie sy volle deel nie omdat dit in ’n trust gesit word om die plaas te ontwikkel.
“Dit is vir my ’n baie vreemde manier van wiskunde, dit klink soos Agab van 1 Konings 21 se wiskunde.”
Mnr. Spies het gereken daar is een manier om mense van regstellende aksie vry te stel en dit is om mense op te lei in ’n veld van skaars vaardighede wat só gesog is dat regstellende aksie dit nie sal beïnvloed nie.
“As ons mense kan oplei, bemagtig ons hulle.”
Hy glo probleme met grondbesit in Zimbabwe het gekom toe die boere nie meer burgerlik geleef het nie, maar individueel begin boer het.
“Hulle het in Zimbabwe eers al die boere wat nie deel van ’n struktuur was nie, se plase geneem.
“Die burgerlike samelewing in Zimbabwe het gerysmier.”
Hy het mense aangeraai om ’n sterk burgerlike samelewing te begin bou om hul grond te beskerm.
“Hofsake is ’n wonderlike hulpmiddel, maar dit is nie die begin en die einde van ons antwoord nie.
“Ons moet ingelig wees.
“In die denkwyse van die ANC is die term Balance of Forces baie belangrik en die Balance of Forces hang van ons af.
“Ons kan die Balance of Forces beïnvloed deur as ’n gemeenskap hande te neem en saam te staan, nie as individue nie,” het mnr. Spies gesê.
Hy het met die verhaal van Dawid en Goliat uit die Bybel afgesluit en gesê Suid-Afrikaners moet oortuig wees van dit waarin hulle glo.
“Dawid was oortuig van dit waarin hy geglo het en hy het gesê ’n onbesnedene, ’n heiden, kan nie die gesag van God uitdaag nie en net een man, Dawid, was nodig om die Fillistyne te verslaan.
“Een man het opgestaan en aksie geneem.
“Maak seker jy kan ’n Dawid wees.”
Hy het mense aangemoedig om nie na Australië en ander lande te vlug nie, maar om eerder saam te staan.
Me. Tokkie Reinecke, voorsitter van AfriForum se Secunda-tak, het mnr. Spies en almal wat die geleeentheid bygewoon het, bedank.
As jy by AfriForum op Secunda betrokke wil raak, skakel me. Reinecke by 081 783 5761.



