SECUNDA – Houtkapper is ’n nuwe tak van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging wat vroeër vanjaar op Secunda gestig is.
Hul nuwe skietbaan is nog in die ontwikkelingsproses en dié tak maak natuurbewaring deel van die nuwe baan se stigting.
“Natuurbewaring is baie belangrik vir die jagtersvereniging,” het me. Lynica Meyer van Houtkapper, gesê.
As iemand van natuurbewaring praat, dink almal dadelik aan renosterstropery en hoe ’n mens dit permanent kan stop.
Dit is nie ’n maklike taak nie en mense vergeet soms dat natuurbewaring oor meer as renosterstropery gaan.
As deel van hul projek om by natuurbewaring betrokke te raak, het die Houtkappertak besluit om net inheemse bome by hul nuwe skietbaan te plant.
Hulle het met mnr. Tommy Stein van die Mpumalanga Parkeraad gepraat en hy het ’n lys van inheemse bome wat in Secunda-omgewing se koue klimaat sal pas, gegee.
Dié lys sluit verskeie bome in en een van die lede, mnr. Koos van den Berg, het die vereniging gehelp om vir 200 bome te betaal.
Van die ander lede het gehelp om masjinerie te kry om gate te grou om die bome te plant.
Lede het Kareebome aan albei kante van die baan geplant en gesê daar is baie goeie redes om bome te plant.
Bome help om die lug skoon te maak van besoedeling, verhoog die waarde van die eiendom, help om die temperature in stede en dorpe te beheer en bied beskutting en kos vir voëls en diere.



