SECUNDA – Adj.off. Marieta Wright het die polisie na bykans 24 jaar vaarwel toegeroep.
Sy beplan om vroeg volgende jaar haar eie onderneming op die been te bring wat privaat ondersoeke doen en later ook sekuriteit en beskermingsdienste gaan lewer.
Sy het die afgelope ruk as ’n sektorbevelvoerder by sektorpolisie gewerk en het gesê sy gaan steeds by die sektorpolisie betrokke wees.
Adj.off. Wright is op Roodepoort gebore en het op Secunda grootgeword.
Sy het direk na skool by die polisiekollege begin en daarna op Secunda by die polisie begin werk.
“Ek was te kort om ’n lugwaardin te word,” het sy gesê.
“Dit het vir my interessant gelyk om by die polisie te werk en dit was nog altyd my passie om mense te help,” het sy gesê.
Dit was vir haar bevredigend as sy iemand in hegtenis kon neem en geweet het sy het ’n persoon wat ’n misdaad gepleeg het, tydelik van die strate af verwyder.
Sy het bykans 24 jaar gelede by die voertuigtak van die polisie begin toe hulle nog ’n aparte tak gehad het wat net op die diefstalle van voertuie gefokus het.
Sy is later na die bedrogeenheid verplaas.
“Dit is waar my passie vandaan kom om nou my eie onderneming te begin,” het sy gesê.
Adj.off. Wright is later na die speurtak en onthou hoe hulle destyds ’n groep skoolkinders wat stoptekens uitgehaal en in erwe en selfs deur mense se vensters gegooi het, gevang het.
“Dit was die lekkerste werk by die speurtak.”
Dié kinders het briewe by die tonele gelos en gesê dat die polisie hulle nooit sou vang nie.
“Ons het hulle toe gevang.”
Sy het daarna by radiobeheer gewerk en het dit geniet om altyd eerste by ’n toneel te wees.
“Dit was ook lekker, daardie adrenalien as jy misdadigers jaag,” het sy gesê.
Die moeilikste deel van haar werk as polisievrou, was as sy na ’n ongelukstoneel of selfmoord die families moes inlig.
“Dit was nie lekker nie, veral as dit kinders is wat dood is in ongelukke.
“Ons het daagliks gehoop en gebid dat daar aksie sou wees, maar ook dat ons veilig tuis sou kom,” het sy gesê oor haar dae in die polisie.
In haar vrye tyd geniet sy dit om decoupage te doen, juwele te maak en tyd met haar gesin deur te bring.
“Ons moes iets kry om te doen om te ontlont,” het adj.off. Wright gesê.
Sy gaan steeds die publiek help en skoolkinders toespreek oor die gevare van dwelms.



