Jan hou van spoed
“My motor is my trots en het my al deur groen grasvlaktes en modderplasse en oor sandduine gebring.”
EVANDER – Mnr. Jan Booysen (47) hou van enige vorm van motorsport en is al van kleins af met enige meganisme wat spoedgedrewe is, doenig.
Hy het altyd saam met sy pa en oom tydrenne bygewoon en het op hoërskool in die motorafdeling waar bande omgeruil word tydens renne, gehelp.
Spoed en die vermoë om agter ’n stuurwiel te wees, was mnr. Booysen se inspirasie om in 1998 vir die eerste keer aan ’n motortydren deel te neem.
Die Motorsport Suid-Afrika-kampioenskappe in 2001 het vir hom baie deure oopgemaak toe hy as tweede algehele wenner in sy klas weggestap het.
Mnr. Booysen het in 2007 sy Chevrolet 1968 wat hy vandag nog gebruik, opgebou.
“My motor is my trots en het my al deur groen grasvlaktes en modderplasse en oor sandduine gebring,” het mnr. Booysen gesê.
Een van die hoogtepunte in sy loopbaan was in 2009 toe hy die MSA-kampioenskappe met drie tydrenne voorgeloop het en naam gemaak het onder Nattie Booysen, die naam wat hy gebruik.
Mnr. Booysen het al verskeie toekennings ontvang en sien dit as ’n aansporing om elke tydren met dapperheid te trotseer.
“Ek het op die ouderdom van 30 jaar besluit om agter die stuurwiel te klim en my passie vir spoed realisties te maak en ek is spyt ek het nie vroëer begin nie,” het mnr. Booysen gesê.



