Ou lisenskantore is ‘grillerig’
Bethallers wil ou lisensiekantore in opleidingsentrum omskep.
BETHAL – Die ou lisensiekantore in Chris Hanistraat wat eens ’n mooi plek was, word nou as die kriminele nes op Bethal beskou.
Die munisipale gebied word met heinings toegekamp en sekuriteitswagte is by elke hek, maar skelms kry steeds toegang daartoe.
Die ou kantore is erg gevandaliseer.
Ou kos word daar op ’n hoop gegooi wat boemelaars eet.
Mense gebruik die plek om te stort, kos te maak, seks te hê en dwelms te gebruik en diewe gebruik dit as hul wegkruipplek.
“Hoe kan mense toegang kry as daar sekuriteitswagte is?,” het inwoners gevra.
Volgens hom is die riool verstop en elektrisiteitsdrade gesteel en loop daar gedurig water.
“Wie betaal vir dié lopende water?”
Hy het gesê dat die munisipliteit nie omgee nie.
’n Inwoner wat gereeld die biblioteek besoek het gesê dat die diewe by die biblioteek wegkruip.
“Dit is nie eers meer veilig om biblioteek toe te gaan nie,” het sy gesê.
Me. Michelle Viljoen het op Donderdag, 11 Desember die lisenskantore besoek en volgens haar lyk dit gevaarlik daar.
“Ek ontvang daagliks klagtes oor dié kantore,” het sy gesê.
’n Inwoner het aansoek gedoen om die gebou oor te neem en dit in ’n opleidingsentrum te omskep, maar het nog nie terugvoering van die munisipaliteit gekry nie.
“Ons kan werk maak van die kantore en Bethal bevorder,” het hy gesê.
Me. Bettie Jordaan, biblioteekbestuurder, het nie kommentaar gelewer nie, so ook nie mnr. Henry Masango, hoof van kommunikasie en bemarking van die munisipaliteit.



