7 A’s vir Annalien
Annalien presteer steeds na haar ma kort na haar eerste vraestel oorlede is.
BETHAL – Annalien Storm (18) van Hoërskool Hoogenhout se ma, me. Hantie Storm, is kort nadat sy haar eerste vraestel geskryf het, aan kolonkanker oorlede.
“Ek het op Dinsdag, 21 Oktober rekenaartoepassingstegnologie geskryf en my ma is op Saterdag, 25 Oktober oorlede,” het Annalien gesê.
Sy het onderskeidings in Afrikaans, Engels, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, wiskunde, lewensoriëntering en rekenaartoepassingstegnologie behaal.
Sy was die onderhoofdogter van akademie en was nog altyd ’n uitblinker.
Vir haar was die matriekeindeksamen die moeilikste ding wat sy nog ooit aangepak het.
Annalien het die hartseer en pyn in iets positiefs verander deur onderskeidings in meeste van haar vakke te behaal ter ere van haar ma.
“As ek nie geslaap het nie, was ek agter die boeke.
“My ma het altyd gesê ek moet nie gaan lê nie en dit is waaraan ek vasgehou het.”
Annalien gaan vanjaar aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus vir ’n graad in finansiële wiskunde studeer.
“Dis deur die Here se genade wat ek wiskunde gaan leer, want syfers was eers nie my ‘ding’ nie.”
Annalien is nog met vakansie saam met haar pa, mnr. Braam Storm, in Marlothpark waar hulle vir haar pa ’n aftreehuis bou.



