Marthie staan op haar kop vir ’n goeie doel
Dokters kan niks meer vir Nicoline Pienaar doen nie.
BETHAL – Me. Marthie van der Walt het voor 27 inwoners van Palm-oord Sentrum vir Bejaardes op haar kop gestaan tot eer van me. Nicoline Pienaar wat tans in die hospitaal is.
Me. Pienaar (85), ’n inwoner van dié sentrum, is een van die inwoners wat al die aërobiese oefeninge bygewoon het totdat sy onlangs in die Medicinic Highveld op Trichardt weens ’n infeksie opgeneem is.
Volgens me. Van der Walt, toesighouer, het me. Pienaar se dokter gesê dat niks meer vir haar gedoen kan word nie.
“Ek het altyd gesê as 30 inwoners by die oefeninge is, sal ek op my kop staan,” het me. Van der Walt gesê.
Sy het op 7 Janaurie by me. Pienaar in die hospitaal gaan kuier.
“Sy kan skaars praat, maar sy het my gevra of ons al oefen en of ek al op my kop gestaan het,” het sy gesê.
Me. Van der Walt het daar en dan besluit om op 8 Januarie die inwoners bymekaar te kry sodat sy op haar kop kon staan.
“Ek het dié foto op 9 Januarie vir haar gaan wys.”
Me. Van der Walt het vir die inwoners wat die oefening vir 15 minute bygewoon het, gesê dat vanjaar ’n jaar van “doen” is.
“Leef vir die oomblik.”
Volgens me. Van der Walt was me. Pienaar altyd opgewonde oor die oefeninge en het sy altyd gelag.
“Ek het Jesus in haar oë gesien,” het sy gesê.



