Trichardt-inwoners is moeg gekla
Die reuk is onuithoudbaar nadat dit gereën het.
TRICHARDT – Inwoners van Greystraat is ontsteld oor riool wat gereeld in wasbakke, baddens en toilette opstoot, veral nadat dit gereën het.
’n Inwoners wat al vir langer as vyf jaar in dié straat bly, het gesê dat dié probleem al ontstaan het voordat hulle daarheen getrek het.
Die Govan Mbeki Munisipaliteit is glo al telke male oor die probleem in kennis gestel en is verlede jaar gevra om ’n gesondheidsinspekteur uit te stuur.
Die Ridge Times het op Woensdag, 7 Januarie ondersoek ingestel toe riool weer in die erf gevloei het.
Die munisipaliteit het ’n loodgieter uitgestuur, maar die riool het weer later die middag oorgeloop.
“Soms stink dit só dat ek nie eers meer uit my huis wil gaan nie,” het die inwoner gesê.
“Dié probleem is na die water- en rioolafdeling verwys vir moontlike oplossings,” het mnr. Henry Masango, hoof van kommunikasie en bemarking van die munisipaliteit, gesê.



