BETHAL – Solidariteit Helpende Hand Bethaltak bied vir die eerste keer die skooltassieprojek aan.
Solidariteit Helpende Hand bied die projek reeds vir die negende jaar aan en vanjaar beplan die lede om meer tasse te versprei.
“Met dié veldtog wil ons graag hê dat almal moet onthou dat alle kinders nie so bevoorreg is om ’n gelukkige eerste skooldag te hê nie en daarom reik ons na daardie kinders uit,” het lede gesê.
“Helpende Hand dra daartoe by om behoeftige gr. 1-leerlinge te ondersteun om hul skoolloopbaan op dieselfde vlak as ander leerlinge te begin,” het dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, gesê.
Lede glo dat armoede uitgeroei kan word deur in opleiding te belê en vir Helpende Hand begin dit reeds met die gevoel van hoop wat die nodige toerusting vir kinders skep.
Elke skooltas sal soos gewoonlik al die nodige skryfbehoeftes bevat, maar daar sal ook ’n paar ekstras in 2015 se tasse te vinde wees.
Die leesboekie ’n Dag by die Dieretuin, wat deur Helpende Hand uitgegee is met die doel om kinders se leesvermoë reeds vanaf gr. 1 ’n hupstoot te gee, is een van die nuwighede.
“Ek is baie opgewonde oor die hoë gehalte skryfbehoeftes wat weer eens in die skooltassies gaan wees, asook al die lekker geleenthede wat ons rondom dié veldtog beplan.
“Die belangrikste is om die kinders se opgewonde gesiggies te sien wanneer hulle die nuwe skooltassie uitpak,” het me. Sanette Henning, voorsitter, gesê.
“Dit maak al die harde werk elke jaar opnuut die moeite werd!”
Vir meer inligting, skakel me. Henning by 082 300 4835.



