BETHAL – Dit gaan goed met die Weldon-broers, Johan en MC, wat saam met hul vriend, Werner (Shoepie) Swart, op 26 Desember in ’n trompop-botsings in Suid-Dakota betrokke was.
Werner is opslag dood.
Die Ridge Times het in die berig “Broers sterk goed aan” op 16 Januarie berig dat dit goed gaan met die broers, dat Johan nie meer aan ’n asemhalingstoestel gekoppel is nie en dat MC se gesigoperasie uitgestel is omdat die suurstoftelling in sy bloed te hoog was.
Volgens die broers se oom, mnr. Hercus Mahoney, sit Johan al regop in ’n rystoel en word sy een oog toegehou omdat hy sukkel om te fokus weens skade op die brein.
“Die skade op die brein is egter net tydelik,” het hy gesê.
MC het glo reeds ’n gesigoperasie ondergaan en is nog onder verdowing.
“Ons glo hulle sal die verdowing stadig maar seker verminder,” het hy gesê.
Mnr. Mahonay het ook gesê dat Johan nie die ongeluk kan onthou nie en dat ’n mens aan sy spraak kan hoor dat hy nog deurmekaar is.
Johan het verlede week met sy ouma gepraat en haar stem herken.
Mnr. Andries Schambriel, hul stiefpa, het op Vrydag, 16 Januarie na die broers gevlieg.
Die broers weet nog nie dat Werner dood is nie.
Werner se roudiens was op Vrydag, 9 Januarie op Kriel.



