Editor's choiceLocal newsNewsSchools

Ouers kan ’n verskil maak tydens verkiesing

Die verkiesings vir 2015 vind tussen 6 en 28 Maart plaas.

Elk van die meer as 24 000 openbare skole in Suid-Afrika het ’n demokraties verkose skoolbeheerliggaam. Skoolbeheerliggaamverkiesings word elke drie jaar gehou.

Die verkiesings vir 2015 vind tussen 6 en 28 Maart plaas.

Ouers kan by hul kinders se skole uitvind wat hulle spesifieke verkiesingsdatum is.

Deur aan die verkiesing deel te neem, het elke ouer die geleentheid om die gehalte van onderwys by die skool te verbeter.

Dit is ouers se geleentheid om ’n verskil in skole te maak.

Dit is elke ouer se verantwoordelikheid en demokratiese reg om belangstelling te toon in en deel te neem aan die wyse waarop die skool beheer en bestuur word.

Volgens die Skolewet is ouers vennote in die onderwys van hulle kinders.

Ouers kan aan die verkiesing deelneem deur hulself verkiesbaar te stel en/of hul stem op verkiesingsdag uit te bring.

Die kieserslys vir ouers word op die skool se toelatingsregister gegrond.

Stemgeregtigdes is persone wat as ouers in die toelatingsregister verskyn of kan bewys lewer dat hulle ouers is soos wat die Skolewet dit omskryf.

Slegs twee ouers per leerling mag stem.

Ouers moet dus seker maak dat hulle besonderhede in die skool se toelatingsregister verskyn.

Alles wat in en om ’n skool plaasvind, word hoofsaaklik deur die Suid-Afrikaanse Skolewet gereguleer.

Die kernbepaling met betrekking tot die werksaamhede van beheerliggame kom voor in artikel 16(1), saamgelees met artikel 16(3), wat bepaal dat die beheer van elke openbare skool in sy beheerliggaam setel. Die Skolewet skryf dan verder in artikel 21 en 22 sekere werksaamhede en verpligtinge aan die beheerliggaam voor.

Die beheerliggaam speel ’n kernrol in die opstel van ’n aantal beleide, onder meer die toelatingsbeleid, die taalbeleid, die godsdiensbeleid en die skool se gedragskode.

Die beheerliggaam is ook by die aanstel van personeel by die skool betrokke.

Ouers moet seker maak dat daar geskikte onderwysers in die klas is om hulle kinders te onderrig.

Ouers is ook vir die bestuur van skoolfinansies verantwoordelik.

Seker die belangrikste en bruikbaarste van die beheerliggaam se werksaamhede is die bevordering van die skool se belange en die versekering van die voorsiening van gehalte-onderwys.

Dit is ook belangrik om dat artikel 16(2) bepaal dat ’n beheerliggaam in ’n vertrouensposisie teenoor die skool staan.

Dit beteken dat ’n beheerliggaam te alle tye in die skool se belang moet optree en dat ’n lid van ’n beheerliggaam persoonlike aanspreeklikheid kan opdoen indien hy/sy hierdie vertrouensverhouding sou skend.

Daarom is dit ook belangrik om te verseker dat die lede wat tot die beheerliggaam verkies word, persone met integriteit sal wees wat die skool se belange op die hart dra.

Die lede van die beheerliggaam van ’n gewone openbare skool bestaan uit ouers, opvoeders, personeellede by die skool wat nie opvoeders is nie, leerlinge in die agtste graad of hoër by die skool, die prinsipaal, in sy of haar amptelike hoedanigheid en gekoöpteerde lede.

Die getal ouerlede moet een meer as die gesamentlike totaal van die ander stemgeregtigde lede van die beheerliggaam wees.

Slegs ’n ouerlid van ’n beheerliggaam wat nié by die openbare skool werk nie, mag as die voorsitter van die beheerliggaam dien.

Elke provinsie moet ’n stel regulasies uitvaardig wat die verkiesingsprosedure behoorlik uiteensit.

Elke skool het ’n kiesbeampte wat oor die hele proses toesig hou.

Wat die ouerkomponent betref, kan ’n ouer slegs deur ’n ander ouer benoem en gesekondeer word. Benoemings geskied by wyse van ’n nominasievorm wat deur die voorsteller, sekondant en kandidaat voltooi en aan die kiesbeampte oorhandig word.

’n Benoemingsvergadering vind dan plaas waar verdere kandidate benoem kan word en al die kandidate aan al die ouers bekend gestel word.

Die verkiesing vind hetsy net na die benoemingsvergadering of in’n latere stadium in die vorm van’n

voldagverkiesing plaas.

Die verkiesing geskied deur geheime stemming en die kiesbeampte moet die ouers oor die verkiesingsuitslag

inlig.

Die volgende persone mag nie stem nie:

• As ‘n persoon verstandelik siek is en so verklaar is deur ‘n hof

• As ‘n persoon ongerehabilteerbaar bankrot verklaar is/word

• ‘n Persoon wat skuldig bevind is aan ‘n misdryf en gevonnis is om tronkstraf uit te dien sonder die opsie van ‘n boete vir ‘n periode van ses maande of nog nie sy volle tronkstrafperiode uitgedien het nie

• ‘n Persoon wat as ongeskik verklaar is om met kinders om te werk soos voorsien in die Kinderwet, 2005

(38 van 2005)

• ‘n Persoon nie langer in een van die genoemde afdelings van ‘n beheerliggaam val nie

• ‘n Persoon nie langer aan een van die komponente behoort waarin hy/sy verkies is nie

• ‘n Persoon wie se termyn deur die Hoof van die Onderwysdepartment opgeskort is.

’n Kworum van 15% van ouers op die kieserslys word vereis vir die verkiesingsvergadering om voort te gaan.

Om te probeer verseker dat meer ouers in die beheerliggaamverkiesing kan stem en om ’n kworum te behaal, kan skole kies om ’n voldagverkiesing eerder as ’n verkiesingsvergadering te hou.

Sodoende kan ouers wat nie noodwendig ’n enkele vergadering sou kon bywoon nie, nou enige tyd op verkiesingsdag gaan stem.

Die benoemingsproses geskied presies soos met ’n verkiesingsvergadering.

’n Voldagverkiesing vind gewoonlik plaas saam met ’n ander skoolaktiwiteit waarby ouers ook betrokke is of, by skole met koshuise, op ’n Vrydag wanneer ouers hul kinders vir die naweek kom haal.

Indien daar besluit word dat die skool van die enkele verkiesingsvergadering sal afwyk, word ’n kworum van 15% van kiesers vereis vir stemme om getel te word.

’n Skoolbeheerliggaam is ’n statutêre instelling.

Met ander woorde, dit word ingevolge’n wet, in dié geval, die Suid-Afrikaanse Skolewet, saamgestel, terwyl daar geen wetsvoorskrifte oor die samestelling van ’n skoolbestuurspan bestaan nie.

’n Skoolbeheerliggaam word demokraties deur verskillende groepe persone verkies:

Ouerlede word byvoorbeeld deur ouers gekies, en onderwyserlede deur ander onderwysers.

’n Skoolbestuurspan word gewoonlik deur die skoolhoof saamgestel en bestaan uit die skoolhoof self en ander senior opvoeders by die skool, soos die adjunkhoof en departementshoofde.

Die skoolbestuurspan staan die hoof in die nakoming van sy/haar verantwoordelikhede by, en die hoof moet dus besluit watter van sy/haar personeellede die beste daartoe in staat is, die geskikste is en oor die beste kwalifikasies en vaardighede beskik om in die bestuurspan te dien.

Die skoolbeheerliggaam is grootliks verantwoordelik vir die daarstel van beleide soos die toelatings- en taalbeleid van die skool, sowel as die skool se gedragskode.

Omdat die meeste lede van die beheerliggaam egter nie heeldag op die skoolterrein kan wees nie, kan hulle sekere take aan die skoolhoof delegeer, waaronder die uitvoering of inwerkingstelling van die beleide. Verder is die skoolhoof ingevolge artikel 16(3) van die Skolewet verantwoordelik vir die professionele bestuur van die skool.

Kortom beteken dít die bestuur van alle kurrikulêre aangeleenthede, oftewel die akademie, van die skool.

’n Skoolbestuurspan se funksie is dus om die skoolhoof by te staan in die uitvoering van sy/haar professionele bestuursfunksies sowel as die uitoefening van die magte en verantwoordelikhede wat die beheerliggaam aan hom/haar delegeer.

Kopiereg FEDSAS

 

Besoek gerus ons ander webtuistes hier:

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons Facebookblad en volg ons op Twitter.

Vir nuus wat na jou selfoon gestuur word:

BBM – 266F5BCC

WhatsApp – 0748872805

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button