Evander-sakekern is ’n gemors
Inwoners sê munisipaliteit gebruik perseel as ’n asgat.
EVANDER – Die Sentale Sakekern (SSK) is ’n gemors weens rommel wat aan die agterkant van ondernemings gegooi en verbrand word.
Volgens me. Boneta van der Mestht, bestuurder van Dunns Klerewinkel, het die probleem meer as twee jaar gelede ontstaan en sy kan nie meer só aangaan nie.
“My winkel ruik soggens soos rook en ontstel my kliënte.”
Die Echo het die perseel op Donderdag, 12 Februarie besoek en gesien dat die rommel aan die brand gesteek is en dat mense die gebied as blyplek gebruik.
Die gebied word as een van die gevaarlikste in Evander beskou en baie vorms van misdaad is onlangs by die polisie aangemeld.
Volgens inwoners en ondernemings gebruik die munisipaliteit glo die perseel as ’n asgat.
Mnr. Henry Masango, hoof van bemarking en kommunikasie van die Govan Mbeki Munisipaliteit, het gesê dit is misleidend om te sê dat die munisipaliteit hul eie bywette oortree deur rommel in die SSK te gooi.
“Dit is mense wat in die rommel grou en alles uitgooi as hulle na iets soek wat hulle kan gebruik.
“Dit veroorsaak dat nie al die rommel op die vullistrokke gelaai kan word nie,” het mnr. Masango gesê.
Volgens me. Van der Mestht was daar verlede jaar ’n voorval waartydens hulle aan die agterkant van haar winkel ingebreek en voorraad gesteel het.
Die polisie het die diewe gevang en in hegtenis geneem en volgens hulle is dit van die mense wat aan die agterkant gebly het.
“Dit voel asof ons agter tralies werk,” het me. Van der Mestht gesê.
Ondernemings het die munisipaliteit in kennis gestel en gevra dat hulle die probleem oplos.
Vir meer nuus besoek gerus ons webtuistes:
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 29C64351
WhatsApp – 082-611-3867



