Bjon wil Secunda-inwoners betrokke kry by GPF
Secunda GPF vergader elke eerste Dinsdag van die maand.
SECUNDA – Mnr. Bjon Wright (41) het onlangs die leisels as voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) by mnr. Johny Swarts oorgeneem.
Mnr. Wright het vir 10 jaar as polisieman op eMbalenhle, Secunda en Evander gewerk en het in 2001 die polisie verlaat en vir Sasol as proseskontroleerder gaan werk.
Hy is die afgelope ses jaar deel van Sasol se sekuriteitspan en was die afgelope drie jaar die voorsitter van sektor 2 se GPF.
Hy het op Secunda grootgeword en is na skool weermag toe voordat hy by die polisie kollege begin het met sy opleiding as polisieman.
“Misdaadvoorkoming is nog al die jare deel van my lewe. Ons het kinders, ander mense het kinders en ons moet hulle veilig hou,” het mnr. Wright gesê.
Een van sy mikpunte is om die gemeenskap meer betrokke te kry.
“As elkeen net ’n bietjie van hul tyd kan gee en meer betrokke raak, kan ons ’n groot verskil maak,” het hy gesê.
Die hoogtepunt in sy polisieloopbaan was toe hy ’n man weens moorde in hegtenis geneem het en dié man lewenslank tronk toe gestuur is.
Sy vou, me. Marieta Wright, was ook vir jare in die polisie, maar het onlangs bedank en wil nou haar eie onderneming begin.
Mnr. Wright is altyd besig met misdaadvoorkoming en studeer tans vir ’n diploma in sekuriteits risikobestuur.
Hy het al die GPF-lede wat hul tyd opoffer, bedank asook adj.-off. Oosie Oosthuizen, konst. Dalton Sibanyoni en adj.-off. Andries Ncgobo wat die verskillende sektore van die polisie se kant bestuur.
Secunda GPF vergader elke eerste Dinsdag van die maand en die volgende vergadering is op Dinsdag, 3 Maart om 5.30nm by die polisiestasie.
Vir meer inligting, skakel mnr. Wright by 082 958 4096.
Vir meer nuus besoek gerus ons webtuistes:
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 29C64351
WhatsApp – 082-611-3867



