Tannie Nicoline van Palm-oord Sentrum sterf
Me. Nicoline Pienaar se begrafnis was op Dinsdag, 24 Februarie.
BETHAL – Die aërobiese liefhebber van Palm-oord Sentrum vir Bejaardes, me. Nicoline Pienaar (85), is op Woensdag, 18 Februarie dood aan slukdermkanker.
Sy was een van die inwoners wat ál die aërobiese oefeninge bygewoon het totdat sy in Desember in die Medicinic Highveld op Trichardt weens ’n infeksie opgeneem is.
Me. Marthie van der Walt, toesighouer, het voor 27 inwoners van Palm-oord Sentrum vir Bejaardes op haar kop gestaan tot eer van me. Pienaar.
“Ek het altyd gesê as 30 inwoners by die oefeninge is, sal ek op my kop staan,” het me. Van der Walt gesê.
Sy het daar en dan besluit om op 8 Januarie die inwoners bymekaar te kry sodat sy op haar kop kon staan vir ’n foto.
“Ek het dié foto op 9 Januarie vir haar gaan wys.”
“Sy het begin lag en haar ogies het nog helderder geword,” het me. Van der Walt gesê.
Volgens me. Van der Walt was me. Pienaar altyd opgewonde oor die oefeninge en het altyd gelag.
“Ek het Jesus in haar oë gesien en haar dood het weer betekenis aan my lewe gegee,” het sy gesê.
Volgens me. Van der Walt gaan sy die woorde “Dit gaan goed” die meeste mis.
Me. Pienaar laat haar seun, skoondogter, twee kleinkinders en vier agterkleinkinders agter.
“Sy was altyd ’n voorbeeld,” het die familie gesê.
Haar begrafnis was op 24 Februarie.
Haar kleinkinders het in die begrafnisbrief geskryf: “Hoop Ouma sing en dans lekker in die hemel.”
Vir meer nuus besoek gerus ons webtuistes:
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 29C64351
WhatsApp – 082-611-3867



