Gras groei Evander-grafstene toe
“Die begraafplaas is al vir baie jare deel van die gemeenskap en dit is hartseer om te sien dat die plek waar geliefdes begrawe is, so agteruitgaan.”
EVANDER – Die plaaslike begraafplaas is in ’n verwaarloosde toestand en inwoners meen dit is onaanvaarbaar dat die agteruitgang toegelaat word.
Me. Annamarie Trollip, inwoner van Brits, besoek gereeld die begraafplaas omdat sewe van haar familielede hier begrawe is, waarvan een haar kind is.
Sy was geskok toe sy dit onlangs besoek het.
Me. Trollip het op 22 Januarie vier grafstene laat oprig en moes by die Govan Mbeki Munisipaliteit vir permitte daarvoor betaal.
“Ek sien nie waarom ’n mens moet betaal as dit só lyk nie.”
Die grafte is ongelyk gegrawe en van die grafte se palissades is beskadig.
Baie grafte is nie sigbaar nie omdat die gras dit toegegroei het.
“Die begraafplaas is al vir baie jare deel van die gemeenskap en dit is hartseer om te sien dat die plek waar geliefdes begrawe is, so agteruitgaan.”
“Dit is die munisipaliteit se plig om na die begraafplaas in stand te hou, maar dit lyk of hul dienslewering veel te wense laat,” het me. Trollip gesê.
Volgens mnr. Henry Masango, hoof van bemarking en kommunikasie van die Govan Mbeki Munisipaliteit, groei die gras vinniger as gewoonlik in die reënseisoen.
“Die gras word op ’n gereelde basis gesny en die nodige aandag wat die begraafplaas se instandhouding verg, word gegee,” het mnr. Masango gesê.



