Meld verlore Secunda-posduiwe aan
Stanley vertel hoe duiwe gemerk word.
SECUNDA – Mnr. Stanley Viljoen, sekretaris van die Sasol Posduifklub, het verduidelik hoe wedvlugduiwe geteel word.
“Die duiweboer gaan jaarliks deur sy stoet duiwe en soek dan mannetjies en wyfies uit om bymekaar te sit om vir die volgende jaar se vliegseisoen nuwe duifies te teel,” het mnr. Viljoen gesê.
Nadat die pare bymekaar gesit is, neem dit bykans 12 dae voordat die wyfie haar eerste eier lê en twee dae daarna die ander een.
Die mannetjie en wyfie maak dan beurte om op die eiers te sit en die mannetjie is bedags op die eiers en die wyfie snags.
Die mannetjie pas snags die nes op en dit neem bykans 18 dae totdat die kleintjies begin uitbroei.
Binne sewe dae nadat die klein duifies uitgebroei het, word hulle aan hul pote gering.
Dié ring kan nie weer afgehaal word nie.
Die duifies word tussen 24 en 28 dae gespeen en na die vlieghokke oorgeplaas.
“Die duifes word dan toegelaat om die omgewing te verken en word geleer waar om in en uit die hok te gaan,” het mnr. Viljoen gesê.
Volgens hom leer die duiweboer die duifies dan om vinnig in die hok in te gaan wanneer hulle geroep word om kos te gee.
“Dit gebeur soms met die inbreekproses dat die jong duifies vir vreemde geluide soos ’n huis se deur wat oop of toegaan, ’n hadida se geroep of katte wat in die erf rondloop, skrik en dan in alle rigtings vlieg.
“Die duifies is dan baie verward en senuweeagtig en sluit dan soms by ander duiweboere se duiwe wat oefen aan en beland sodoende in ander duiweboere of mense wat duiwe aanhou, se hokke.
“Van die duifies beland in iemand se erf en word deur ’n kat of hond gevang,” het mnr. Viljoen gesê.
Hy het die publiek gevra om sulke gevalle aan te meld deur die nommer op die duifie se vlerk te skakel of die nommer op die identifikasiering aan die duif se een poot.
“Elke duifklub het ’n ringkoördineerder wat weet aan wie die duifie behoort en sodoende die duifie met sy eienaar sal kan versoen,” het mnr. Viljoen gesê.
Die Suid-Afrikaans Nasionale Posduiforganisasie het besluit dat duiweboere vanjaar hul telefoonnommers op die elektroniese manier of op die ringmerk aan te bring om sodoende die verliese van duiwe te verminder.
“’n Duiweboer is maar hartseer as een van sy duiwe wegraak, dit is soos jou kind wat wegraak,” het mnr. Viljoen gesê.
Hy het die publiek gemaan om nie duifies wat hul in hul erwe kry, kos te gee of vir ’n lang tydperk gehok te hou nie.
“Die wedvlugduiwe is ’n duur stokperdjie, goeie kos asook medisyne vir hulle word ten duurste aangekoop om te verseker dat daar goed na hulle gekyk word wat voeding en die behandeling teen verskillende siektes aanbetref.”
Nog ’n probleem wat duiweboere ondervind, is kransduiwe en ander wilde duiwe wat by hul wedvlugduiwe gaan sit en siektes oordra.
“Duiweboere het verlede jaar uitsonderlike groot verliese gely, wat baie ongewoon was,” het mnr. Viljoen gesê.
Hy het die publiek gevra om die ringbeampte, mnr. Jan Badenorst te skakel by 082 255 8353 of 017 634 4910 of mnr. Viljoen by 082 223 4888.
Beide is lede van die Sasol Posduifklub.
“Ons wil ook graag verneem of daar ’n roller- of sierduifklub in die omgewing is en wie geskakel kan word as van hul duiwe in mense se erwe beland,” het mnr. Viljoen gesê.



