Bethaller hoor gedruis by oop kragkas
Kragkas het al gebrand en die deure staan permanent oop.
BETHAL – Leerlinge van Hoërskool Hoogenhout en inwoners van Wicthstraat 62 loop daagliks ’n groot gevaar weens ’n oop kragkas.
Volgens DA-raadslid me. Michelle Viljoen, loop kinders daagliks by dié kragkas verby op pad skool toe.
“Dit het al gebrand en die kabels is oop,” het sy gesê.
Baie klagtes is al by die munisipaliteit ingedien en menige verwysingsnommers is gekry.
“Wie gaan vir die mediese koste betaal as iemand by dié kragkas brand of seer kry?” het me. Viljoen gevra.
“Die kragkas het al ontplof en daar is ’n gedruis,” het ’n inwoner gesê.
Mnr. Henry Masango, hoof van kommunikasie en bemarking van die Govan Mbeki Munisipaliteit, het nie teen druktyd kommentaar gelewer nie.



