Ligbron dinamies teen Dinamika
Ligbron Akademie sit Superreeks voort met goeie vertoning teen Hoërskool Dinamika.

Ligbron Akademie vir Tegnologie se rugby-, hokkie- en netbalspanne het Saterdag na Alberton gereis om teen Hoërskool Dinamika in die laaste van die poelwedstryde in die Superreeks te speel.
Dinamika word gereken as ‘n sterk rugby- en netbalspelende skool en die Ligbron-spanne het daarna uitgesien om teen hulle kragte te meet.
Ligbron se 0/15’s en derde rugbyspan het gesorg vir die eerste twee oorwinnings van die dag.
Die GWM 0/15-span het 17 – 0 gewen en Sibusiso Sibelo is as speler van die wedstryd gekies.
Die derde span het 10 – 7 gewen, met Cornel Greeff wat as speler van die wedstryd gekies is.
Die Bela Vista 0/14’s het hulle teen ‘n begeesterde Dinamika-span vasgeloop en die wedstryd 0 – 12 verloor.
Die tweede span het sy huidige goeie vorm behou en die wedstryd 7 – 0 gewen. Arno Pieterse was die speler van die wedstryd. Die 0/16’s was in ‘n klipharde wedstryd betrokke en het daarin geslaag om met 14 – 5 te wen. Thabiso Makwabo was die speler van die wedstryd.
Die John Wright Veneers eerste span het die groot taak op hande gehad om die onoorwonne Dinamika-span op hulle tuisveld aan te durf.
Om eerste in die poel te eindig, moes Ligbron nie slegs wen nie, maar ook vier drieë druk om ‘n bonuspunt te verdien en ook die wedstryd met ‘n punteverskil van 17 punte wen.
Met ‘n rustydtelling van 8 – 7 in die guns van Dinamika het dit nie gelyk of dit moontlik sou wees nie, maar die Liggies het na ‘n hoër rat oorgeskakel en met puik verdediging en aanvallende spel nog ‘n drie aangeteken.
Met nog ses punte nodig in die laaste sekondes van die wedstryd, het die skeidsregter met die loei van die sirene ‘n strafskop aan die Liggies toegeken.
Skrumskakel Buks de Bruyn het ‘n vinnig tikskoppie waargeneem en Armand Helmuth laat oorduik vir die bonuspunt-drie.
Armand is ook as speler van die wedstryd gekies.
Die oorstelpte Liggies het die wedstryd oortuigend 29 – 11 gewen en eindig dan eerste in hulle poel in die Superreeks.
Ligbron kom in die eerste naweek ná die skoolvakansie in die halfeindwedstryd teen Hoërskool Brandwag van Benoni te staan.
Die Liggies se eerste span is vanjaar uitgenooi na die “Best of the West Easter Festival” wat oor die Paasnaweek in Krugersdorp plaasvind.
Netbal
Ligbron se netbalspanne het teen verlede jaar se Superreeks-netbal kampioene te staan gekom op hulle bane in Alberton.
Die eerste span wat nog al hulle wedstryde in hul poel gewen het, het ook Saterdag met Dinamika se eerste netbalspan afgereken met ‘n telling van 21 – 15. Annelien Bibbey was die speler van die wedstryd.
Die Liggies se 0/16A-span het 18 – 7 gewen met Nicolene Duncan wat as speler van die wedstryd aangewys is.
Die 0/16B-span het ook geseëvier met ‘n telling van 20 – 9 en Noma Mzelemu is aangewys as die speler van die wedstryd.
Die ander spanne kon nie daarin slaag om hul wedstryde teen die kampioene van Dinamika te wen nie.
Hokkie
In die laaste poelwedstryde vir die Superreeks, het Ligbron se hokkie-spanne Saterdag onoorwonne uit die stryd getree teen Dinamika.
Die uitslae was soos volg, gevolg deur die speler van elke wedstryd in hakies:
Eerstes : 3 – 1 (Elshia O’Neill); tweedes: 3 – 0 (Zama Nkosi); 0/16: 5 – 0 (Janke du Plessis); 0/15: 5 – 0 (Suné Mostert) en 0/14: 10 – 1 (Simoné Stapelberg)
Die hokkiespanne speel ook ná die vakansie in die halfeindwedstryde van die Superreeks teen Hoërskool Brandwag.




