TRICHARDT – Swaar vragmotors wat saans in Barney Molokwanestraat oornag, is een van die hoofredes waarom die misdaadsyfer van die dorp geweldig toeneem.
Vragmotorskapings word gereeld by die polisiestasie aangemeld en dié sake word tans ondersoek.
Konst. Valencia Koma, skakelbeampte van die Trichardt Polisiestasie, het die publiek gevra om die diewe te help vang.
Vragmotorbestuurders is in meeste van die gevalle nalatig omdat hulle nie veiligheid toepas nie.
Hulle sluit nie hul vragmotors as hulle uitklim nie en los items soos selfone en kontant in die vragmotor waar almal dit kan sien.
Inwoners kla dat dié vragmotors die straat vol staan en motoriste se sig belemmer.
Die bestuurders bestee lang ure op die pad en soek ’n stilhouplek om die aand deur te bring, maar volgens wet is dit nie toelaatbaar as hulle die dorp se strate gebruik nie.
Vragmotors wat ’n abnormale vrag vervoer, moet voor die son sak van paaie af wees en as hulle in ’n dorp oornag, moet die verkeersdepartement toestemming daarvoor gee.
Vragmotors wat die dorp se paaie gebruik, dra ook by tot die ineenstorting van die dorp se strate en infrastruktuur.
Die Govan Mbeki Munisipaliteit het onlangs begin om dele van die dorp se infrastruktuur te herstel en die regmaak van slaggate is ’n hoofprioriteit.
Na ’n reënbui is die slaggate in Carolusstraat onsigbaar en maak die pad onrybaar.
Meeste vragmotors gebruik Carolusstraat as ’n alternatiewe roete deur die dorp.
Trichardt se GPF het ’n voorstel aan die munisipaliteit gemaak om ’n afsonderlike gebied vir vragmotors af te sper sodat hulle nie die hoofstraat hoef te gebruik nie.
Volgens die munisipaliteit sal daar in die toekoms daarvoor voorsiening gemaak word.
As jy enige verdagte vragmotors in die hoofstraat sien, skakel konst. Koma by 071 645 1158.



