InternationalLettersLocal newsNewsOffbeatOpinion

Secunda-vrou waarsku teen man wat mense uitbuit

Man doen egpaar in met R950.

Ek wil mense waarsku om versigtig te wees wie hul deesdae vertrou.

Ons het gedink ’n man wat ons jare mee besigheid doen is betroubaar, maar ons het ons koppe baie hard gestamp.

Ons het n motor in Johannesburg gekoop en het gesukkel om die voertuig op ons naam te kry en die lisensie te kry, toe vra my man die man wat ons gedink het ons kon vertrou, se raad en hy het voorgestel om ons te help om die motor op ons naam te kry.

Hy het gesê hy sal al die inligting later vir ons deurgee.

Hy het later vir my man ’n SMS gestuur en gesê hy kan ons help as ons hom R950 betaal.

Hy werk glo saam met ’n vrou in die verkeersdepartement.

Toe my man begin agterkom het daar is ’n slang in die gras, het hy die geld en die motor se papiere terug gevra sodat ons maar eerder in Johannesburg die regte dokumente op die regte manier kon gaan kry.

Die man was egter vol verskonings oor die geld en ons dokumente en na ’n hewige woordewisseling per SMS, is ons polisiestasie toe.

Ons is egter by die polisiestasie ingelig dat dit onwettig was om hom te betaal en ons sou dan net so skuldig wees soos hy as ons ’n saak sou oopmaak.

Ons het nie besef dit was onwettig om hom te betaal om ons te help met ons dokumente nie en ons het geen probleem om skuld te herken nie, want ons wil nie hê hy moet nog mense uitbuit nie.

Ons is nie die eerstes wat deur hom uitgebuit is nie en ook nie die laaste nie.

Ek wil mense maan om asseblief seker te maak julle doen besigheid met die regte mense.

As iets verdag lyk, vermy dit liewers want hierdie man het nie ’n probleem gehad om ons geld te steel nie, inteendeel, hy het ons uitgelag omdat hy dit kan doen omdat ons soos hy sê, geen bewyse het nie.

Ons het egter al die SMSe wat gestuur is wat wel bewys dat ons hom betaal het, gehou.

Ons vertrou hy sal sy verdiende loon kry, maar hoeveel mense moet nog ingedoen word voordat hy stop?

Niemand kan dit bekostig om in vandag se ekonomie geld in die water te gooi nie.

Ek sal mense aanbeveel om volgende keer eerder die lang pad te neem, want as jy die kort pad neem, word jy om elke hoek en draai ingedien.

Elize Steyn, Secunda.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button