Nico en Albert blink uit vir Sasol Stoeiklub
Plaaslike stoeiers doen goed by proewe en kampioenskappe.
SECUNDA – Nico van den Berg en Albert Swanepoel van Sasol Stoeiklub het op Saterdag, 28 Maart by die Suid-Afrikaanse Stoeiproewe wat by Graceland Hotel, Casino en Buitekllub gehou is, goue medaljes ingepalm.
Van den Berg het eerste plekke in die 46-50kg Vrystyl en Grieks-Romeinse afdelings behaal en Swanepoel het eerste plekke in die 76-85kg Vrystyl en Grieks-Romeinse afdelings behaal.
Stoeiers vir die Suid-Afrikaanse span wat in Mei aan die Afrika Kadet Vrystyl en Grieks-Romeinse Stoeikampioenskappe in Egipte gaan deelneem, is gekies en Van den Berg en Swanepoel is in die span opgeneem.
Albei gaan in die Vrystylafdeling deelneem omdat hulle nie in al twee afdelings mag deelneem nie.
Mnr. Manie van den Berg, beskermheer van Sasol Stoeiklub, sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Stoeifederasie en Vise-President van die Afrika Stoeifederasie, gaan ook na die Afrika Kadet Vrystyl en Grieks-Romeinse Stoei Kampioenskappe om ’n vergadering van die Afrika United World Wrestling by te woon.
Van den Berg en Swanepoel het ook op Vrydag, 10 April aan die Suid-Afrikaanse President Grieks-Romeinse Stoeikampioenskappe in Pretoria deelgeneem en presteer.
Van den Berg het derde in die 50-54kg afdeling geëindig en Swanepoel het in die 76-85kg deelgeneem en tweede geëindig.
Hulle het op Saterdag, 11 April aan die Suid-Afrikaanse President Vrystyl Stoeikampioenskappe, ook in Pretoria deelgeneem en Van den Berg het al sy stoeistryde gewen en is as die Suid-Afrikaanse President Vrystyl Stoeikampioen in die 50-54kg afdeling aangewys en mnr. Johan van den Berg, afrigter van dié twee stoeiers, het ’n Suid-Afrikaanse afrigtersmedalje ontvang as afrigter van ’n Suid-Afrikaanse kampioen.
Die ander lede van Sasol Stoeiklub wat by die Suid-Afrikaanse President Stoeikampioenskappe Mpumalanga verteenwoordig het, is me. Elma Webb (hoofspanbestuurder), me.Leticia Swanepoel (spanbestuurder), mnr. Manie van den Berg (voorsitter van die Suid-Afrikaanse Administratiewe Raad en toernooi-sekretaris) en me. Lollie van den Berg (sekretaris van die Suid-Afrikaanse Administratiewe Raad).
Mnr. Johan van den Berg, president van Sasol Stoeiklub, is trots op die lede van Sasol Stoeiklub wat die klub se naam so hoog hou.




