Bethaller bekommerd na Projek Phoenix-afdanking
“Ek wil nog leef en aangaan vir my kinders en kleinkinders.”
BETHAL – Mense sê altyd dat slegte dinge met goeie mense gebeur omdat daar ’n lewensles iewers daarin is, maar die vraag is of daar ’n les vir almal is om te leer.
Me. Wilma Wolmarans het onlangs haar werk verloor tydens Sasol se Projek Phoenix.
Sy het vir vyf jaar by ’n booronderneming gewerk.
“Ons bestuurder het ons vooraf gewaarsku dat mense afgedank gaan word, maar geen name is genoem nie,” het sy gesê.
Sy het op ’n Vrydagoggend in Februarie by die werk aangekom en haar en ander werkers se name is uitgeroep.
“Ons bestuurder het vir ons die slegte nuus gegee dat ons ons werk verloor het.”
Sy het met trane in haar oë gesê dat sy nooit weer dit wat sy op daardie oomblik gevoel het, wil ondervind nie.
“Om nou weer werk te soek, gaan moeilik wees omdat my ouderdom onder andere teen my tel,” het sy gesê.
“Net die tyd sal leer wat nou gaan gebeur.
“Ek hou tans net aan my geloof vas en vertrou dat daar ’n beter uitweg is.”
Me. Wolmarans het vir 12 jaar ’n onderneming op Secunda bedryf, maar het dit weens moeilike omstandighede toegemaak.
“Ek het daar begin om hondeklere te maak en verkoop tans hondeklere, komberse en perdevlieskomberse.
“Ek hou die koerante dop vir markte en feeste waar ek kan gaan uitstal omdat dit nou my enigste inkomste is.”
Me. Wolmarans is in 1981 met mnr. Ben Wolmarans getroud en hulle het twee dogters en drie kleinkinders.
Haar man is in 2011 aan terminale prostaatkanker dood en sy het hom self versorg terwyl sy gewerk het.
Mnr. Wolmarans het vir drie jaar aan kanker gely.
“Dit was erg om só ’n groot man te sien agteruitgaan.”
Haar ouers, mnr. Frans (85) en me. Corrie (83) Fourie, inspireer haar omdat hulle saam deur moeilike tye gegaan het en nooit moed opgegee het nie.
“My pa is tans in die hospitaal en het vir agt jaar aan prostaatkanker, Alzheimers en hartprobleme gely.”
Slegte tye het me. Wolmarans ’n sterker en meer standvastige vrou gemaak.
“Ek wil nog leef en aangaan vir my kinders en kleinkinders.”
Haar raad aan mense wat tans deur ’n slegte tyd gaan, is om in God te bly glo omdat Hy van beter weet.
“Onthou dat dinge altyd met ’n doel gebeur.”




