Sasol Stoeiklub styg bo uit
Die president van Sasol Stoeiklub het gesê hy is trots op sy klub se stoeiers en amptenary.
SECUNDA – Die Suid-Afrikaanse Kadet Grieks-Romeinse Stoeikampioenskap het op 3 Julie in Brakpan plaasgevind en Sasol Stoeiklub se lede het goed presteer.
Nico van den Berg het ’n goue medalje verwerf en is ook as Suid-Afrikaanse Kampioen in die 50kg- tot 54kg-afdeling aangewys.
Albert Swanepoel het ’n goue medalje in die 77kg- tot 85kg-afdeling gewen en is ook as Suid-Afrikaanse Kampioen in dié gewigsklas aangewys.
Nathan Webb het op 4 Julie ’n silwer medalje in die 63kg- tot 69kg-afdeling losgestoei tydens die Kadet en Senior Vrystylkampioenskap in Brakpan.
Albert het ook tydens dié kampioenskap goud verwerf en is as Suid Afrikaanse Kampioen aangewys, terwyl Nico van den Berg ‘n silwer medalje verwerf het.
Ernst Schreuder het ‘n silwer medalje in die Senior 86 tot 97kg-afdeling verower.
Die volgende ampsdraers van Sasol Stoeiklub het op albei dae opgetree: mnr. Johan van den Berg (afrigter). me. Elma Webb en me. Leticia Swanepoel (spanbestuurders), mnr. Manie van den Berg (administratiewe beampte en toernooisekretaris) en me. Lollie van den Berg (loting).
Die president van Sasol Stoeiklub het gesê hy is trots op sy klub se stoeiers en amptenary.
Nico van den Berg is ook in die Suid-Afrikaanse Kadetstoeispan ingesluit wat vanaf 25 tot 30 Augustus aan die Wêreld Kadet Stoeikampioenskap in Bosnië Herzegovina plaasvind.



