Foto galery – Dis partytjietyd
Daar is een stem wat bo almal uitstaan: dié van Colleen van Wyk, die Engelsman met die Afrikaanse van, wat al geselsend en laggend besig is om tannie Bets se hare te sny.

As jy by die SAVF-Huis se voordeur inkom en links in die gang afstap, word die vrolike geluide van lag en gesels duidelik net soos dit in ‘n haarsalon hoort.
Daar is een stem wat bo almal uitstaan: dié van Colleen van Wyk, die Engelsman met die Afrikaanse van, wat al geselsend en laggend besig is om tannie Bets se hare te sny.
Die Hoëvelder het met Colleen gaan gesels om meer uit te vind oor die goeie werk wat sy vir die SAVF-inwoners doen.
Colleen, oorspronklik van George, het ‘n paar jaar gelede saam met haar man na Ermelo verhuis en was werksaam by ‘n haarsalon in die dorp.
In haar eie tyd het sy by die SAVF-Huis uitgehelp om die inwoners se hare te versorg.
Colleen vertel dat sy gou vir hulle lief geword het en ook besef het dat daar ‘n aanvraag vir ‘n haarsalon is.
Die res is geskiedenis.
Twee jaar gelede het Colleen haar haarsalon, Hair by friends, in die SAVF-Huis geopen en dit was sommer gou duidelik dat dít die plek was om te wees.
Colleen is ‘n bol energie en tannie Bets en die ander vroue in die salon vertel hoe wonderlik sy is, van die verjaarsdagpartytjies tot die DVD-dae wat sy vir hulle reël.
Volgens Colleen is dit glo ‘n kuns om die regte DVD te kies, want met al die beperkings op taal, geweld en vurige liefde, is daar nie veel oor om van te kies nie.
“En, ja, mens kan ook net soveel keer na Gone with the wind kyk,” lag Colleen.
Tannie Bets sê hulle hou van die nuwe Afrikaanse flieks, want die helfte van die inwoners is doof en daarom kan hulle die storie beter in hul eie taal volg. Colleen lag uit haar maag met die gedagte dat die inwoners in Afrikaans liplees.
Colleen vertel dat sy altyd alles wil regmaak en almal gelukkig maak, maar sy het deur die jare geleer dat dit nie altyd moontlik is nie. Daarom het sy besluit om op ‘n paar dinge te fokus en dit goed te doen.
Sy het in die begin seker gemaak dat as iemand wat verjaar na die salon toe kom, sy ten minste ‘n sjokolade ontvang.
Dit het haar egter laat dink dat almal nie altyd salon toe kom nie en net die blote gedagte dat iemand verjaar sonder ‘n geskenkie of ‘n besoek van vriende of familie, het haar aangespoor om iets daaraan te doen.
Só het sy verlede jaar besluit om elke maand ‘n partytjie te hou vir die inwoners wat in die maand verjaar.
Met die hulp van Hermien van der Walt wat tweeweekliks haar tyd aan die inwoners opoffer en vrywilliglik in die salon uithelp om hul naels en hare te versorg, word daar nou elke maand partytjie gereël.
Van die begin af was daar ‘n groepie dorpsvroue wat getrou elke maand hul bydrae tot die partytjie lewer, maar hulle wil geen erkenning daarvoor hê nie.
Colleen raak skoon opgewonde as daar oor die volgende partytjie gepraat word en vertel van die koek wat Pick n Pay elke maand skenk en ook van Yolandi by Fourie se Apteek wat dié maand aan boord gekom het en 20 “presente” aan hulle geskenk het.
Op die dag van die koerant se besoek aan die partytjie, was die biblioteek versier met ballonne en slagspreuke en op die tafel het ‘n groot sjokoladekoek en ‘n kardoesie vol bederfies vir elke verjaarsdagvrou gepryk.
Almal was baie opgewonde en nadat daar in Engels en Afrikaans gesing is, het tannie Nannie Boonzaaier, wat dié maand 91 geword het, die voorreg gehad om die kersies uit te blaas.
Almal het heerlik saamgekuier, tee gedrink, koek geëet en dit net weer geniet om spesiaal te voel op hul verjaarsdae.
Colleen is reeds besig om volgende maand se partytjie vir haar geliefde inwoners te beplan.























