BRIEF: Is jou kind ’n boelie?
Dit is ironies dat onderwysers ook geboelie word.

Ek verwys na die voorbladartikel in die Standerton Advertiser van 30 Oktober.
Dit was insiggewend met ’n indrukwekkende illustrasie.
Ek stem volmondig met die opvoedkundige sielkundige, me. Louise Coetzee, saam dat boelies se optrede subtiel plaasvind.
Drie dekades se ondervinding met peuters tot in die volwasse wêreld dui aan dat boelies hulle eie sielsongelukkige gevoelens op ander projekteer, dikwels vanuit hulle huislike omstandighede.
Die norm is dat opvoeders grotendeels meer moet dissiplineer as wat hul by die leerproses uitkom.
Dit is ironies dat onderwysers ook geboelie word.
Één so ’n afknouer ontwrig ’n klas-, speelgrond- en skoolsituasie.
In 90% van die gevalle is dit herhaaldelik dieselfde leerlinge.
Word dit in die geringste mate aangemeld en opgetree teenoor sulke onaanvaarbare gedrag, weier sommige ouers om enigsins in te sien dat hul kind self agter die deur staan.
Daardeur ondersteun en sterk hul ’n kind in die kwaad.
Die gevolg is ’n bose kringloop.
Jammer sê is taboe.
Ons is altyd reg.
My kind is die verontregte.
Soveel onderwysers en mede-leerlinge pik net op hom/haar.
Selfondersoek deur leerlinge en onderwysers wat boelie, is broodnodig.
My waardering aan elke omgee-ouer, opvoeder en opboumaat by elke skool.
Gee ook om.



