Munisipale bestuurder stel sy kant oor watervermorsing
Mense wil nie oor elke bakatel aan die huil gaan nie, maar die gemeenskap is nuuskierig om te weet waar trek mens nou die streep?
Met die huidige droogtekrisis landwyd, staan inwoners verstom oor die watervermorsing op die dorp.
Is ons munisipaliteit daadwerklik bekommerd oor die trant van vermorsing of kan ons die aangemelde waterlekke as ‘Projek-onbekostigbaar’ doop?
Volgens mnr. Linda Tshabalala, Lekwa munisipale bestuurder, is hulle bewus dat waterverwante probleme vir mense ’n bekommernis is.
Oor die reservoir wat in Colignystraat lek het hy gesê: “Ons munisipaliteit soos ander munisipaliteite, het die afgelope drie jaar of meer, ’n ernstige ineenstorting van die ou infrastruktuur, insluitend die reservoirs, ondervind.
“Met beperkte finansiële hulpbronne word van die netwerke vervang omdat dit onekonomies sal wees om dit te herstel of op te knap.
“Ons het onder andere ’n nuwe reservoir by Standerskop gebou, AC pype (staal/asbes) met ’n PVC pype (plastiek) vervang, staalmeters met plastiekmeters, ou elektriese kabels met nuwe groter kabels ens.
“Ons kan egter meer doen as alle inwoners hul rekeninge betaal soos hulle veronderstel is.”
Die media het verskeie kere oor van die lekke berig, maar tevergeefs.
Volgens mnr. Tshabalala reageer die munisipaliteit vinnig op probleme wat aangemeld word.
Hy het ook gevra dat verwysingsnommers verskaf word van gevalle waarvoor lank gewag moes word, of herhaaldelik oor berig is, sodat hy individueel op elk kan reageer.
Lees vandeesweek se Standerton Advertiser waarin mnr. Tshabalala ook die plan van aksie vir Kosmospark bespreek.








