Op 12 Junie verlede jaar het die Standerton Ibis berig oor twee mans wat met kiefnette by die Vaalrivier in die Rivierpark onwettig gehengel het.
Die mans is op heterdaad betrap, maar omdat die Standerton Polisie nie voertuie beskikbaar gehad het nie, het hulle weggekom.
Op 3 November het die Standerton Ibis weer ‘n berig gedoen oor onwettige kiefnette en hoe dit die natuur beïnvloed.
Op 18 Januarie is die Standerton Advertiser in kennis gestel oor ‘n menigte dooie visse wat in ‘n net vasgevang is en langs die Tweedronkdam gelos is.
Mnr. Pieter Lourens het op 17 Januarie gaan hengel en ‘n man het hom geroep om te kom kyk.
Toe hy daar kom, het hy dié visse gesien.
‘n Kiefnet van bykans 1 000m is op 15 Januarie deur die Ligtegerei Boothengelspan van Mpumalanga uitgetrek.
Hul het die volgende dag ‘n liga gehad en het ‘n oefenlopie op die Grootdraaidam gedoen.
Toe hul by die Tweedronkbrug aankom, het hul merkers gesien wat kiefnette aandui.
Hul het die net losgesny en uitgetrek, net onder die Tweedronkbrug.
‘n Meederheid van die visse was reeds dood en van hul het al gevrot.
Die visse wat nog geleef het, is weer vrygelaat.
Dit is nog onbekend wie die net daar gespan het, maar die saak sal opgevolg word.
Klein vissies word in kiefnette vasgevang en dit wis die visbevolking uit.
Voëls en otters wat vasgevang word in die nette verdrink.
‘n Lisensie om te kan hengel, kos slegs R20 per jaar en jy mag net met twee stokke vang.
Enige iemand wat met kiefnette hengel, kan tronkstraf in die gesig staar.


