BETHAL – Mnr. Johan Fourie sukkel al vir maande dat die Govan Mbeki Munisipaliteit ’n lekkende bogrondse watermeter voor sy prokureurskantoor in Vuyisile Ministraat op Bethal herstel.
Volgens hom het munisipale werkers die meter verlede jaar tydens die groot waterdilemma installeer.
“Toe ons Woensdagoggend by die werk kom, was dit net water waar jy kyk,” het hy gesê.
Mnr. Fourie het ook gesê dat hy kort-kort iemand kry om die grond onder die watermeter oop te grawe.
Daarna skakel hy die munisipale werkers om die probleem te herstel.
“Hulle daag of op en herstel dit tydelik of hulle daag net glad nie op nie.”
Munisipale werkers het op Woensdag, 13 Januarie die lek by die watermeter herstel, maar volgens mnr. Fourie lek dit steeds.
“Hoekom herstel hulle dit nie net die eerste keer reg nie?”
Mnr. Fourie woon al vir jare op Bethal en is ‘n voormalige burgemeester en volgens hom gaan die dorp net agteruit.
“Ek is darem positief met die Solidariteit Helpende Hand en AfriForum-takke, want met hulle hulp gaan ons die dorp weer regruk,” het hy gesê.
Geen kommentaar is van die Govan Mbeki Munisipaliteit ontvang teen druktyd.




