Editor's choiceLocal newsNews

Alzheimers is ‘n wrede siekte

“Hoewel ons geweet het dat sy sou dood gaan, was dit steeds ’n skok om te hoor dat sy weg is.”

Alzheimers is die siekte wat ’n hele mens se geheue en menswees verwyder.

Me. Lucil de Kok (*) het met die Ridge Times oor haar skoonma, me. Riekie de Kok (*), wat aan Alzheimers dood is, gepraat.

Sy het gesê dat ’n mens nie dadelik agterkom dat iemand aan die siekte ly nie en het hulle aan haar skoonma se gedrag agtergekom dat iets fout was.

“Sy het gehelp om kos te maak en haar hand sommer in die warm pot olie gedruk om te voel of dit warm was.

“Sy wou aan alles vat en het aangeneem dat alles aan haar behoort,” het me. De Kok gesê.

Die kinders het opgemerk dat sy baie vergeetagtig was en weer soos ’n kind begin raak het.

Toe haar oudste seun dood is, het sy nie besef dat hy dood is nie.

“My skoonma het alles van lank terug onthou, maar niks van wat onlangs gebeur het nie,” het sy gesê.

Hulle het haar na die Residentia Palm-Oord geneem weens moeilike omstandighede toe sy 80 jaar oud was.

“Ek onthou ons moes ’n mediese sertifikaat ingee voordat sy kon gaan en die dokter het gesê dat sy een van die gesondste 80-jariges was.”

Die verpleegsters by die tehuis het vir die gesin gesê dat sy vensters breek as sy nie by ’n deur kon ingaan nie en dat sy met hulle baklei het wanneer sy moes gaan bad.

Sy het ook sommer in die ander inwoners se kamers ingegegaan en hul goed gevat.

Die verpleegsters het aan die familie gesê dat dit beter sou wees as sy na die Alzheimersafdeling kon skuif.

“Ons het gedink dat sy aan demensie ly, nie aan Alzheimers nie.”

Volgens me. De Kok het hulle gereeld gaan kuier, maar haar skoonma het na ’n halfuur belangstelling verloor.

“My pa is al lank dood, maar sy het steeds van hom gepraat asof hy nog leef,” het haar seun, mnr Andre de Kok (*), gesê.

Me. De Kok het ook gesê dat hulle haar nooit probeer reghelp het nie omdat hulle haar nie ongelukkig wou maak nie.

Sy het kort-kort ook oor dieselfde ding gepraat en dieselfde vrae gevra.

“Sy het ook soms dinge gesê wat seergemaak het,” het mnr. De Kok gesê.

“Dit was vir my erg om my ma daar te los en sy wou altyd saamgaan, maar die siekte vererger wanneer ’n Alzheimerlyer aan te veel nuwe dinge bekendgestel word.”

Me. De Kok het soms baie klere bo-oor mekaar aangetrek en glad nie haar handsak uitgelos nie.

Sy het ook van helder kleure gehou.

“Sy was nie net my skoonma nie, maar sy was ’n ma vir my en dit het my hart gebreek om te sien hoe sy agteruit gaan,” het me. De Kok gesê.

Haar skoonma het begin siek word en is in die hospitaal opgeneem toe sy bykans 83 jaar oud was.

Mnr. De Kok het gesê: “Die dokter het gesê dat van haar organe besig was om in te gee en dat dit net ’n kwessie van tyd was.

“Sy het ons tot die dag van haar dood nog herken,” het hy gesê.

Me. De kok is verlede Junie net na haar verjaarsdag dood.

“Hoewel ons geweet het dat sy sou dood gaan, was dit steeds ’n skok om te hoor dat sy weg is,” het me. De Kok gesê.

“Die impak van die siekte op ons as ’n familie was erg, want jou rolmodel verander sonder dat sy iets daaraan kon doen.

” Sy was nie in beheer van haar liggaam of haar lewe nie,” het me. De Kok gesê.

Hoe tree ’n mens op teen ’n Alzheimerlyer?

“So na as moontlik aan normaal en jy koester elke oomblik saam met haar,” het me. De Kok vertel.

“Jy moet geduld hê en net lief vir die persoon wees.”

Die familie het haar as ’n sterk, gesonde, liefdevolle en vriendelike mens beskryf.

Hulle raad aan ander is dat mense dit dag vir dag moet neem, omgee, behulpsaam wees en die persoon onthou vir wie hy of sy was.

“Moet nie dink jy doen ’n onreg as jy ’n Alzheimerlyer na ’n tehuis toe neem nie, want daar weet die verpleegsters wat om te doen,” het mnr. De Kok gesê.

Volgens hom kan ’n lyer nie verandering hanteer nie.

Hy het ook gesê dat geloof ’n belangrike rol gespeel het, want ’n mens kry afdae.

Mnr. De Kok het gesê dat dit ’n moeilike tyd was, maar dat God nie iemand deur iets sal neem as Hy weet jy sal dit nie kan hanteer nie.

Me. Marthie van der Walt, toesighouer by die Residentia Palm-Oord se Alzheimersafdeling, het die siekte as ’n wrede siekte beskryf wat alles van die mens ontneem.

Me. Denise Fredericks van Alzheimers Suid-Afrika het gesê dat mense www.mysupport.co.za kan besoek om meer oor Alzheimers uit te vind.

Vir meer inligting oor Alzheimers SA, skakel me. Fredericks by 082 413 9956.

* Die Ridge Times het skuilname gebruik om die identiteit van die familie te beskerm.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

WhatsApp – 0793644185

 

Die deurlopende agteruitgang in geheue, vloei van spraak en ruimtelike oriëntasie lei tot toenemende inkorting van onafhanklikheid en uitvoerende vermoëns.
Die deurlopende agteruitgang in geheue, vloei van spraak en ruimtelike oriëntasie lei tot toenemende inkorting van onafhanklikheid en uitvoerende vermoëns.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button