CrimeNews

Plakkate laat wrang smaak

Die kwalifikasies en metodes van die persoon wat die aborsie uitvoer en omstandighede waaronder dit gedoen word, word bevraagteken deur sommiges.

Die toename in die aborsieplakkate wat onwettig op die dorp opgesit word, is ‘n steen des aanstoots vir menige inwoner.

Die roetes na die Gert Sibande Kollege en Hoërskool Standerton word geteiken.

Kasselman Veiligheidsdienste se poging om mense in diens te neem om die plakkate te verwyder, maak nie hond haaraf nie.

“Dit gaan ‘n jaar neem,” het mnr. Jannie Kasselman gesê.

Volgens hom blaas diegene wat die werk onderneem na vyf dae die aftog.

Dié plakkate is moeilik om te verwyder, veral dié op baksteen- en betonmure.

Die kwalifikasies en metodes van die persoon wat die aborsie uitvoer en omstandighede waaronder dit gedoen word, word bevraagteken deur sommiges.

Die prosedure self staan onder verdenking by veral geloofsgroepe.

Die Standerton Advertiser het reeds verlede jaar berig oor die saak en by twee geleenthede verlede week ondersoek ingestel en een van die plakkate onder oë gekry.

By navraag het die persoon R600 gevra om ‘n aborsie te doen en die swanger vrou moet hom eers vanaf ‘n plaaslike bank skakel vanwaar hy haar sal kom oplaai.

Volgens hom doen hy die prosedure op vroue wat een tot vyf maande verwagtend is. Hy verskaf pille en stuur die vrou huis toe en sou sy pyn daarna hê, pas hy tradisionele medisynepraktyke toe.

Aborsie is in Suid-Afrika sedert die ingebruikneming van die Wet op Keuse oor die Beëindiging van Swangerskap (no 92 van 1996) in baie gevalle wettig.

Volgens https://af.wikipedia.org.wiki het ‘n beraamde 55,6% van alle swangerskappe in Suid-Afrika in 2007 in aborsie geëindig. Volgens die webwerf kom ‘n vrou in aanmerking vir aborsie in die volgende gevalle:


 

• Waar sy minder as 12 weke swanger is en dit aanvra, hoef geen verduideliking gegee te word nie.

• As sy tussen 13 en 20 weke swanger is en (a) haar fisiese of geestelike gesondheid op die spel is, (b) die baba ernstige geestelike of fisiese gebreke gaan hê, (c) sy swanger geword het as gevolg van bloedskande, (d) sy swanger geword het as gevolg van verkragting of (e) sy persoonlik voel dat haar ekonomiese of sosiale situasie dit vereis.

• As sy meer as 20 weke swanger is, kan sy slegs ‘n aborsie kry indien haar of die fetus se lewe in gevaar is.


 

Die Lekwa Munisipaliteit het in Junie verlede jaar Kasselman se inisiatief verwelkom.

Lt. Fanie Nhlabathi, woordvoerder van die Standerton Polisie, het ook gesê dat aborsie nie geadverteer moet word nie.

“Ons sal enige hulp waardeer,” het mnr. Kasselman gesê.

“Die plakkate besoedel ons dorp,” het ‘n plaaslike sakeman gesê. Die aangeleentheid blyk holrug gery te wees, maar die werklikheid is dat sekere ouers met ontvanklike tieners in die huis, kapsie maak.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button