Drie vermeende verdagtes wat vermoedelik sonpanele gesteel het het ’n mielieland ingevaar nadat hul wegkommotor op die R38-Bethalpad gerol het.
Kasselman Veiligheidsdienste, Secunda Polisiestasie se honde-eenheid, die polisie stasies van Standerton, Morgenzon, Bethal en Charl Cilliers, asook boere van die gemeenskap is op die toneel om die gebied af te sper.
’n Vliegtuig is ook ingespan en dui aan Kasselman en betrokkenes die ligging van die verdagtes aan.
Dit is nog nie bekend waar die mans die sonpanele gekry het nie.
Meer inligting volg.

OPVOLG: 7.58vm
Volgens inligting vanaf die Kasselmangroep is een verdagte sopas in hegtenis geneem.
Kasselman en die betrokke partye beweeg nou deur die mielielande op soek na die oorblywende vlugtelinge.
OPVOLG: 8.09vm
Boodskap van die Kasselmangroep: “Gaan nou hoogloopspuit instuur saam met nog manne op die grond asook honde.”
OPVOLG 9.09vm
Die tweede verdagte is oomblikke gelede vasgetrek en daar word vermoedelik nog net na een verdagte gesoek.
Volgens ’n Kasselmanbeampte is die sonpanele vanaf ’n omliggende plaas gesteel, maar die eienaar se naam is nog nie aan die Standerton Advertiser bekend nie.
OPVOLG 9.41vm
Volgens nuwe inligting word die bestuurder van die bakkie (wegkommotor) steeds gesoek.
Na bewering het ’n boer die drie mans agterna gesit waarna hulle die voertuig gerol het.
Die boer het glo opgemerk dat die bestuurder tydens die ongeluk beseer is.
Verdere inligting volg.
OPVOLG 10:13vm
Die soekspan het voorlopig die aftog geblaas in hul poging om die laaste verdagte op te spoor.
Sou meer inligting verkry word sal die Standerton Advertiser lesers op hoogte bring.






