AfriForum Buurtwag hou jaarliks drie landswye massapatrollies om misdaad te bekamp.
Tydens dié patrollies ry lede vanaf 6nm tot 6vm die volgende oggend.
AfriForum se Standerton-tak het onlangs hul eerste massapatrollie vir die jaar afgelê.
Die koue het nie die lede gekeer om hul samewerking deur die nag te gee nie.
’n Totaal van 36 lede het meer as 1 200km deur die nag gery.
Volgens mnr. Hillel Coetzer, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak, was die nag stil gewees.
“Die sigbaarheid was goed en ek dink dit het die misdadigers afgeskrik,” het hy gesê.
Lede het mekaar ’n paar keer deur die nag by verskeie punte ontmoet waar hul koffie gedrink en lekker gesels het voor hul weer die strate aangedurf het.
Volgens mnr. Coetzer is hy trots om te sien dat soveel mense ’n verskil wil maak al is die misdaadsyfer so hoog.
“Dankie aan almal wat hul tyd opoffer om Standerton ’n beter plek te maak,” het hy gesê.
AfriForum Buurtwag wil graag meer saam met die polisie werk sodat hul ’n groter verskil kan maak.
“Die doel van buurtwag is om sigbaar te wees en misdadigers af te skrik en hoe meer voertuie ons kan mobiliseer met patrollies, hoe beter,” het mnr. Coetzer ook gesê.


