TRICHARDT – ‘n Vrou van Trichardt is vanoggend 14 April van haar bankkaart en moontlik geld beroof.
Sy het omstreeks 7.30vm by die kitsbank gestop om geld te trek.
‘n Man het by die kitsbank gestaan en sy het eers gewag dat hy moet klaar maak.
“Nadat hy geloop het, het ek uit my motor geklim en na die kitsbank geloop.
“Voordat ek nog my kaart in die masjien kon sit, het dieselfde man langs my gestaan.
“Hy het vir my gesê ‘Put in your card’ en ek het vir hom gesê dat ek self kan regkom, maar hy het aangehou om vir my te sê dat ek my kaart in die masjien moet sit.”
Nog ‘n man het aan haar anderkant kom staan en een agter haar.
Hulle het haar teen die kitsbank vasgedruk en gesê dat sy haar pinkode moet insleutel.
“Ek het oor die man aan my regterkant se skouer geskreeu vir iemand wat daar naby gestaan het en gevra waar die mense is wat daar werk?
“Hy het gesê dat hy vir die ander bank werk.”
Die man wat agter haar gestaan het, het die kamera bo die kitsbank se skerm toegedruk.
Een van die rowers het boonop vir haar geglimlag.
Nadat sy haar kode ingesleutel het, het een van die rowers die res van die knoppies op die skerm gedruk.
“Die man wat agter my gestaan het,het verdwyn en daarna die ander twee.
“Hulle was netjies aangetrek en een het ‘n mussie gedra.
“Ek weet nie of hulle gewapen was nie,” het die vrou verduidelik.
Sy het na haar voertuig gehardloop om haar selfoon te kry.
“Die oomblik toe ek op my foon kyk, het die smse al klaar begin deurkom van geld wat reeds onttrek is.”
Sy het die noodnommer geskakel en kon dadelik met die bank se speurders praat om als te verduidelik.
Die kitsbank is afgeskakel en ‘n ondersoek word ingestel.
Dit is onbekend hoeveel geld die rowers onttrek het en of die transaksies wel suksesvol was.
“Vroue moet vermy om alleen geld te trek en moet eerder binne in ‘n bank of winkel geld trek.
“Ek is net dankbaar vir my man en my werkgewer wat my na die tyd ondersteun het.
“Dit het so vinnig gebeur en ek het soos ‘n robot gevoel wat geprogrammeer is om alles te doen wat hulle sê,” het sy vertel.
Die vrou is nie beseer nie, maar wel getraumatiseer.


