Honde opleiding is Corné se passie
Corné Coetzee leef uiteindelik haar passie uit. Sy het haar eie hondeskool en werk saam met eienaars en diere om die beste uit die verhoudings te kry.
SECUNDA – Me. Corné Coetzee het BSc Rekenaarwetenskappe gestudeer, vir meer as 20 jaar in die korporatiewe wêreld gewerk én het die trotse ma van tweelingdogters geword, voordat sy die moed bymekaar geskraap het om haar eintlike passie uit te leef.
Sy het eers voltyds in IT en later op ’n kontrakbasis gewerk, maar uiteindelik besef dat dit haar liefde vir diere en mense is waar haar geluk lê.
Me. Coetzee het in 2014 ’n kursus in honde-opleiding aan die South African Dog Training College (SADTC) voltooi en dadelik haar eerste klas aangebied.
Sy het laggend vertel: “Daardie Saterdag het my man vir my ses babahondjies en hul eienaars bymekaar gekry en ek het my eerste klas sommer van die huis af aangebied. ”
Twee jaar later ken sy steeds al die honde en eienaars van daardie eerste klas, maar sy het baie sedertdien geleer.
Sy het ondere andere geleer om ferm met die eienaars te wees.
“’n Gedissiplineerde eienaar sal ’n gedissiplineerde hond hê.”
Sy het ook geleer dat honde steeds diere bly en wel gevaarlik kan wees.
’n Voorheen getraumatiseerde hond het haar verlede jaar aan die arm gebyt tydens ’n privaat konsultasie.
“Honde het tande en mens kan nie naïef wees nie.
“Hulle kan baie skade maak.”
Me. Coetzee het verduidelik dat mense kies om honde in ’n mensewêreld in te bring en sonder die regte opleiding en kondisionering, sal die hond altyd uit plek uit wees.
“’n Hond sal altyd soos ’n hond optree en dit is nie altyd gepas vir die wêereld waarin ons hulle aanhou nie.”
Sy raak veral opgewonde as sy sien hoe die “liggies” in ’n hond en eienaar se koppe aangaan en hulle mekaar skielik begin verstaan.
Volgens haar is dit is die eienaar se verantwoordelikheid om die sielkunde van sy hond te verstaan.
“Honde kan nie mensetaal verstaan nie.
“Lang sinne beteken niks vir ’n hond nie.
“Konsekwentheid, aandag en moeite is wat nodig is vir ’n gehoorsame hond.”
Me. Coetzee het na haar eerste kursus aan SADTC, nog twee verdere kursusse voltooi en is tans besig met korrespondensiestudies deur die Ethology Academy.
Haar studies is gefokus op honde-optrede en hoe om diere vir terapie te gebruik.
Sy stel veral belang daarin om honde vir terapie te gebruik om byvoorbeeld kinders met konsentrasieprobleme te help.
Haar droom is om moontlik ’n diereterapiesentrum op Secunda op die been te bring en om met kinders sowel as volwassenes te werk.
Me. Coetzee voel baie sterk daaroor dat troeteldiereienaars verantwoordelikheid vir hul diere moet aanvaar.
“’n Hond het meer nodig as kos en water.
“Hy moet ook speeltyd, liefde en aandag kry.
“Dit is dán wanneer jou dier regtig jou lewensgenoot word.”
Dit is belangrik dat eienaars besef dat genetika ’n rol speel, nie net wat temperament aanbetref nie, maar ook as dit kom by die geluk en gesondheid van jou dier.
Om eienaars te help om meer uit hul troeteldiere te kry, bly egter die gunsteling deel van haar werk.
Sy bied vier vlakke van opleiding aan asook babahondjie sosialiseringsklasse vandat die hondjies 10 weke oud is of ’n week na hul tweede inentings.
Tot op ses maande laat sy die klein hondjies toe om sonder halsbande te sosialiseer, maar die proses van halsbandloop vorm van die begin af ’n belangrike deel van haar klasse.
Me. Coetzee verstaan dat eienaars graag iets opwindend saam met hul diere wil doen en sodra ’n hond rustig saam met sy eienaar kan loop, is die wêreld vir hulle wawyd oop.
Hoewel ’n hond en eienaar binne ’n maand of twee basiese gehoorsaamheid onder die knie kan kry, het sy honde in haar klasse wat al vir meer as twee jaar getrou lesse saam met hul eienaars bywoon.
Daar is egter sommige eienaars wat ’n les of twee bywoon en dan net wegbly.
“Om ’n hond gehoorsaamheid te leer, neem baie moeite, konsekwentheid en harde werk.”
Sy glo wel dat dié harde werk altyd die moeite werd is en geniet dit veral om te sien hoe die verhouding tussen hond en eienaar groei soos gehoorsaamheid aangeleer word.
Me. Coetzee bied verskillende soorte klasse in groepe of ’n een-tot-een aan.
Die eerste klas is altyd ’n teorieklas, waar die eienaar geleer word wat die verskil tussen honde- en mensetaal is, die basiese beginsels van die opleidingsproses en oor hoe ’n hond se kop werk.
Sy doen ook tuiskonsultasies as ’n hond dalk ’n spesifieke gedragsprobleem het waarmee hy sukkel.
Me. Coetzee het onlangs met ’n hond gewerk wat nie deur sy hondedeurtjie wou loop nie en werk tans met ’n hond wat skielik baie bang vir ’n boekrak in die huis is.
Sy help gereeld eienaars wat diere by die DBV aangeneem het en die ommeswaai in verwaarloosde diere se gedrag met net ’n bietjie aandag, is merkwaardig.
“Een meer gelukkige hond op aarde is waarom ek dié doen.”
Vir meer inligting, stuur ’n epos na info@canineconnect.co.za.



