Leef jou droom-reisigers tuis
Marius is reeds besig met die beplanning vir sy volgende toer, wat hy in die komende wintermaande gaan onderneem om die verfilming van die Bucketlist te voltooi.

‘n Maand gelede het Marius Scholtz, Herman Pretorius en Marko Scholtz op hul Mosambiek-reis vertrek om ‘n televisiereeks te verfilm en hul kluitklaplysie te voltooi.
Die reis genaamd “Leef jou Droom, Mosambiek Bucketlist 2016”, het op 26 Maart van Ermelo via Komatipoort-grenspos na Inharime in Mosambiek begin.
Vandaar het hulle oor die Saverivier na Beira gereis en hul reis amptelik in die Gorongosa Nasionale Park begin.
Daarna het hul reis hul na Villanculos, Inhambane, Xai-Xai, Maputo en Ponta do Ouro geneem waar hulle op 23 April hul toer geëindig het.
Die doel van die toer is in wese nog nie vervul nie.
“Moeder natuur het net nie vir ons genoegsame materiaal verskaf om die program tans gepubliseer te kry nie.
“Gorongosa se wildlewe het op die dae van ons safari’s nie hulself gewys soos ons dit sou wou hê nie.
“Ons kon net ‘n beperkte hoeveelheid safari’s doen en ons het net nie die beeldmateriaal gekry waarna ons gesoek het nie.
“Dieselfde het ongelukkig daarna met die seelewe ook gebeur.
“Op die dae wat ons seesafari’s, skuba, snorkel en 4×4-ekspidisies bespreek is, kon ons nie genoegsame materiaal kry nie, of die see was te rof, die water te troebel, die lig te swak of die seelewe nie teenwoordig nie.
“So kon ons nie die walvisse, leerskilpaaie, dolfyne of walvishaaie mooi op film vaslê nie.
“Ek het op dag 17 van die toer besluit om die prop op die ekspedisie te trek.
“Ons het puik beeldmateriaal van die kosmaakinsetsels, onderhoude met die plaaslike mense, 4×4-ekskursies en algemene interessanthede, ingesamel. Maar die belangrikste, die natuur en seelewe, wou nie genoegsaam saamspeel nie.”
Die manne is egter baie dankbaar teenoor Koos Byleveldt van TWK Toyota Piet Retief wat as borg opgetree het.
Hulle sê dankie aan hul gesinne, familie, vriende en facebook-volgers wat hulle wedervaringe so getrou gevolg en ondersteun het.
Marius is reeds besig met die beplanning vir sy volgende toer, wat hy in die komende wintermaande gaan onderneem om die verfilming van die Bucketlist te voltooi.
Lees die volledige uiteensetting en opsomming van die toer op facebook by Mozambique Bucket-List-Leef jou droom.



