Mnr. Hannes Grobler ’n inwoner van Standerton, het ’n man kortgevat oor hy babadoeke in ’n spruit by ’n laebrug op die Vredepad gestort het.
Volgens mnr. Grobler het die man, met ’n blou Ford bakkie, langs die pad stilgehou en die doeke asook ander vullis gestort terwyl sy passasier slegs toegekyk het.
Mnr. Grobler, wat die man van sy huis af dopgehou het, was goed die josie in en het die bakkie agtervolg tot by ’n kafee waar die man stilgehou het.
Mnr. Grobler het hom gevra wie hom die reg gegee het om van die spruit ’n stortingsterrein te maak.
Die vermeende morsjors het glo geantwoord dat dit nie sy skuld was nie, omdat die mense vir wie hy die vullis wegry, aan hom gesê het om die spruit te gebruik.
Na bewering ry die man, wat volgens mnr. Grobler in sy 60’s kan wees, vullis weg vir ’n ekstra inkomste.
Mnr. Grobler het die man opdrag gegee om die gemors te gaan optel waarna die man twee helpers gekry het en begin skoonmaak het.
“Dit maak my naar dat mense so lui kan wees!” het mnr. Grobler gesê.
“Dit vat niks om die vullis aan te ry tot by die asgate en dit daar te gaan gooi nie.”
Die Standerton Ibis het die man opgespoor en vir hom ’n kans gegee om sy kant van die storie te stel.
Volgens hom was dit nie hy nie, maar die mense wat saam hom daar was.
Hy het ook genoem dat die hof deesdae nie meer foto’s gebruik as bewyse nie en het gedreig om die Standerton Ibis asook mnr. Hannes Grobler hof toe te sleep sou die berig gepubliseer word.
“Mnr. Grobler het vir my gesê as ons die spruit skoonmaak, hy nie die koerante sal nader nie.
“Ek sal uitvind waar julle bly, iemand gaan seerkry,” was onder meer van die dreigemente wat hy aan die Standerton Ibis gerig het.
Besoek gerus ons ander webtuistes hier:
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons Facebookblad en volg ons op Twitter.
Vir nuus wat na jou selfoon gestuur word:
BBM – 5bf99755
WhatsApp – 0731082205


