BETHAL – Inwoners is bekommerd oor die misdaadsyfer wat drasties op die dorp styg en dat niemand nog vasgetrek is nie.
Inbrake van veral drankwinkels het toegeneem.
Hoewel eienaars vermoed dat dit telkens dieselfde inbrekers is wat toeslaan, het die polisie nog geen leidrade nie.
Konst. Thomas Mogadime, kommunikasiebeampte van Bethal Polisiestasie, het gesê die inbrekers slaan gewoonlik in die vroeë oggendure toe.
Daar is al meer as ses keer in van die drankwinkels ingebreek.
Eienaars het al alles probeer om die booswigte uit te hou.
Op van die videomateriaal waarop die inbrekers vasgevang is, blyk dit of die man dieselfde klere dra.
Mense vermoed dat twee mans saam werk omdat hulle telkens dieselfde manier van inbraak gebruik.
By een van die drankwinkels is daar vyf keer op dieselfde plek, manier en tyd ingebreek.
Die inbrekers maak ’n gat in die dak om by die winkel in te kom.
Dit neem hulle blykbaar minder as 10 minute om te kry wat hulle wil hê.
Daar kon intussen met behulp van kameras vasgestel word dat een van die mans buite wag, die ander deur die dak klim en dat ’n wit Navara-bakkie gebruik is.
Gewapende mans het ook onlangs die N17 KFC beroof.
’n Inwoner het gesê: “Ons ken nie Bethal só nie.
“Daar was nooit so ’n groot probleem met misdaad op ons dorp nie.
“Sakelui sal moet saam staan en inwoners moet ook help met patrolering.”


