BETHAL – Rowers het op Bethal toegeslaan en talle gewapende rooftogte het gevolg.
Drie gewapende mans het op 4 Mei om 5.30nm op North City Supermark toegeslaan oomblikke voordat die deure sou sluit.
Die mans het in die supermark ingegaan en die personeel beveel om stil te bly, op die vloer te lê en hul selfone te oorhandig.
Hulle het die bestuurder na een van die kantore geneem en gesê om geld aan hulle te oorhandig.
“Ons was besig om klaar te maak om huis toe te gaan toe ons vuurwapens wat afgevuur is, gehoor het.
“Die rowers het vir ons gesê dat ons moet stilbly, anders maak hulle ons dood.
“Een van die rowers het ons bestuurder na ’n kantoor geneem en vir geld gevra.
“Ons bestuurder is op die ou einde in die skouer geskiet, ” het ’n personeellid vertel.
Dié rooftog het plaasgevind nadat verskeie ondernemings op Bethal in April geroof is.
Een van die rowers is vasgetrek en die polisie het wat vermoedelik ’n gesteelde vuurwapen is, in besit geneem.
Met behulp van ander polisielede sowel as die gemeenskap polisie forum is daar ook klere wat die rowers vermoedlik gebruik wanneer hulle dié rooftogte uitvoer, gekry.
Konst. Thomas Mogadime, woordvoerder van die Bethal Polisiestasie, het gesê: “Ons ondervind ’n geweldige toename in gewapende roof van klein en groot ondernemings.
“’n Onbekende som geld word gewoonlik gesteel.
“Ondernemings moet dus gewaarsku en op hul hoede wees.
“Moenie groot bedrae geld in kasregisters hou nie.”
’n Deur van North City Supermark is ook deur die rowers beskadig nadat die rowers op die polisie geskiet het wat buite die gebou was.
’n Ander groep gewapende rowers het die volgende dag, 5 Mei, op Delicatessen toegeslaan.
Die kassiere is met vuurwapens gedreig en geld, selfone, sonbrille en sigarette is gesteel.
Konst. Mogadime en die bestuur van Bethal Polisie het die polisie van ander omgewings, die K9 honde-eenheid, die tegniese reaksiespan, plaaslike sekuriteitsmaatskappye en Bethal Polisie Forum vir hul samewerking en dat almal vinnig reageer het, bedank.
“Enige misdaad of verdagte persoon of persoon wat vermoedelik misdaad sal pleeg, moet by die polisie aangemeld word,” het konst. Mogadime gesê.
Inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van verdagtes, kan by die kantoor aangemeld word by 017 647 9929/30.
Die speurtak se bevelvoerder, lt. Sandile Celimpilo Mkhwanazi, kan ook geskakel word by 017 647 9927.



